Wat is die voordele en die nadele nou?

Onder die eik.


Die aankondiging van Debbie Schäfer, Wes-Kaapse minister van onderwys, dat skole volgende Maandag na normaal terugkeer, het sy voor- en nadele.

Hierdie besluit volg nadat pres. Cyril Ramaphosa en sy Kabinet op 31 Januarie verskeie veranderings aan die vlak 1-inperking aangekondig het.

Wat is die voordele?

Wanneer ’n mens kyk na die onlangse matriekslaag­syfer, kan jy nie anders as om ook die slegte en hartseer van die onderwysstelsel in Suid-Afrika uit te wys nie. Volgens syfers van die nasionale departement van basiese onderwys (DBO), het sowat 1 077 532 graadeentjies hul skoolloopbaan in 2010 in die openbare sektor begin. Uit hierdie klas het sowat 175 000 van die seuns en meisies die skoolstelsel tussen 2010 en 2021 (graad 1 tot matriek) verlaat. Die vraag is: Wat het van hierdie leerders geword?

Tussen 2020 en 2021 het sowat 500 000 tot 700 000 leerders die stelsel verlaat. Roterende onderrig en leer was een van die grootste redes waarom talle leerders besluit het om eerder die stelsel te verlaat.

In my drie jaar van studies as onderwysstudent aan die Universiteit Stellenbosch het ek al ’n draai by talle skole as deel van my kursus gemaak. Met hierdie besoeke kon ek met my eie oë die gevolg van roterende onderrig sien. Die kinders kry swaar; so ook die onderwysers. In een geval was daar ’n onderwyser wat besig was om graad 2-werk met graad 4-leerders te behandel omdat die gaping as gevolg van roterende leer net te groot was.

Dus beskou ek die besluit om die skoolhekke tot volle kapasiteit te heropen, as die beste besluit tot voordeel van die leerders en hul toekoms.

Wat is die nadele?

Tydens die onlangse DBO-lekgotla het Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, die moontlikheid van onderrig en leer op volle kapasiteit aan belanghebbendes en kundiges genoem.

Die minister het hierby genoem sy weet baie van die onderwysers gaan nou hartseer raak, omdat die kleiner aantal leerders eintlik goed en beter gewerk het om veral ’n bietjie meer individuele aandag aan leerders te gee. Ek is bly die minister het hierdie erken – vir te lank al is die onderwyser-leerder-verhouding hopeloos en belaglik.

In ’n klas van 40 tot 50 leerders word verwag dat een onderwyser gehalteonderrig moet verskaf. Die ergste is egter die klomp belaglike administrasiewerk waarmee onderwysers opgesaal word. Hoe de hel verwag ons dat onderwysers, wat reeds te veel leerders in hul klasse het, gehalteonderrig moet bied wanneer administrasie meer as die helfte van hul tyd in beslag neem?

Dus sou ek sê hierdie sou die nadele wees vir die heropening van skole tot volle kapasiteit.

Aan die ander kant – en ten slotte – hoop en bid ek dat die agbare minister besef dat ons onderwysers nie langer soos slawe moet werk nie. Onderwysers het die toekoms van hierdie land en wêreld in hul hande, dus moet beter geleenthede en ondersteuning geskep word om seker te maak niemand is oorwerk nie en dat onderwysers die beste geleentheid gebied word om gehalteonderrig aan ons leerders te bied.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.