Sportlui van wyd en syd is ontstoke nadat die Stellenbosch-munisipaliteit planne bekendgemaak het om die Van der Stel-terrein (VDS) se bestuur aan ’n derde party te oorhandig.
’n Kennisgewing vir openbare kommentaar is op 30 Januarie in Eikestadnuus gepubliseer. Hierin verduidelik die munisipaliteit sy planne om die bestuur van die meer as 85 jaar oue sportkompleks – wat onder meer twee rugbyvelde, ’n sokkerveld, twee krieketvelde, ’n hokkieveld, ’n swembad en funksielokale insluit – vir 30 jaar aan die Stellenbosch-sokkerklub te oorhandig.
Volgens die munisipaliteit sal dit die finansiële uitgawe van dié kompleks se bestuur versag en die koffers ’n hupstoot gee danksy huur wat geïn sal word.
Plaaslike sportlui meen egter die plan beteken eenvoudig die “verkoop” van ’n gemeenskaplike, openbare fasiliteit.
Pieter Lotz, die voorsitter van die Van der Stel-sportklub, sê sprake van die munisipaliteit se planne doen reeds langer as ’n jaar die ronde. Hy meen die gepubliseerde plan is nie in die belang van die gemeenskap of sportlui hier nie.
“Die sportklub het meer as 2 000 aktiewe lede wat alles van rugby, krieket tot crossfit insluit. Ná jare word daar ook nou gewerk om weer veerpyltjies terug te bring. Daar is daagliks atlete wat die sportkompleks gebruik,” verduidelik Lotz.
Onder die gebruikers van die Stellenbosch-veld is die o.20-Springbokspan, plaaslike skole en twee kerke.
Lotz sê die beplande eksklusiwiteit wat die Stellenbosch-sokkerklub oor die geriewe sal hê, is kommerwekkend.
“Wat gebeur ná die 30 jaar? Indien dit ek was, hoekom sou ek dan ’n gerief wou oorhandig waarin ek miljoene rande belê het? Eintlik is die huurkontrak ’n verkoopkontrak wat ons betref.”
Die Stellenbosch-sokkerklub beoog om R395 miljoen oor vyf tot 10 jaar in die kompleks te belê. Die munisipaliteit meen, luidens die kennisgewing, dit sal help om die sportkompleks ’n fasiliteit van wêreldgehalte te maak. Sporttoerisme sal aangewakker word, wat internasionale sportlui en beleggers sal lok, sê die munisipaliteit.
Internasionale toernooie in die VDS-fasiliteit is egter nie ongewoon nie. In November is twee tennis-toernooie hier deur die Internasionale Tennisfederasie aangebied.
Die munisipaliteit bieg egter dit het nie die “vereiste operasionele infrastruktuur om die standaard van diens te lewer nie”.
By navraag het Stuart Grobbelaar, ’n munisipale woordvoerder, gesê hierdie is die tweede openbaredeelnameproses ná vroeëre gesprekke met belanghebbendes en ’n tenderproses.
“Die doel van hierdie voorstel is om die kompleks tot ’n wêreldklas-sportfasiliteit te ontwikkel, wat nasionale en internasionale sportgeleenthede lok, terwyl dit steeds toeganklik bly vir alle inwoners van die munisipaliteit,” sê hy.
Lotz sê die klub sou natuurlik ’n algemene belegging in die fasiliteit wou sien, maar meen die kostes van die belegging soos dit nou staan, is te hoog vir die gemeenskap.
Hy sê al die sportsoorte wat op die VDS-sportterrein beoefen word, speel in die premierligas van hul onderskeie sporte.
Johan Breedt, ondervoorsitter van die klub, sê die geskiedenis en erfenis van die sportkompleks in die Eikestad moenie uit die oog verloor word nie. Hoe meer hy van die uiteindelike planne te hore kom, hoe meer bekommerd raak hy.
“Daar is sprake om later woonstelle vir atlete te bou – om uiteindelik die hele gedeelte van die dorp om die sportfasiliteite te laat draai. Ons kan nie toelaat dat die ryk geskiedenis tot ’n einde kom nie. Hier het al talle Springbok-atlete oor hierdie velde gehardloop. Hoe kan die publiek kommentaar lewer indien ons nie toegang het tot die omvattende planne vir die fasiliteit nie?” wil hy weet.
Stellenbosch-sokkerklub het by navraag gesê hy sal nie in die stadium verdere kommentaar lewer nie en respekteer die openbare deelname proses. ’n Vergadering tussen die VDS-klubbestuur en die burgemeester, Jeremy Fasser, sou gister (Woensdag) geskied om die planne verder te bespreek. Intussen het belanghebbendes tot volgende Donderdag (20 Februarie) om hul insae te lewer.