Stellenbosse lede van die burgerregte-organisasie AfriForum het die plaaslike rioolsuiweringswerke onlangs saam met beamptes van die Stellenbosch-munisipaliteit en die departement van water en sanitasie (DWS) besoek.
Die gesamentlike besoek op Maandag 9 Desember het gevolg nadat AfriForum vir ’n jaar gepoog het om inligting oor die stand van sake by die waterwerke van die munisipaliteit te kry. Twee Paia-aansoeke is ook deur AfriForum ingedien om spesifieke inligting te bekom omdat inwoners gekla het oor die watergehalte in die munisipale gebied.
Al drie partye het in November vergader, waar die departement versoek het dat ’n besoek gebring en monsters geneem word (“Groenlig vir toetsing”, Eikestadnuus, 28 November 2024).
Verlede Woensdag (12 Desember) het die plaaslike tak gesê op die vergadering tussen verteenwoordigers van die munisipaliteit, die departement, bestuurders van die rioolwerke en verteenwoordigers van die Raad vir Wetenskaplike en Nywerheidsnavorsing (WNNR), is vele haakplekke bespreek.
“Op die vergadering is verduidelik watter stappe geneem is om die uitdagings van die vorige 18 maande met betrekking tot die doeltreffendheid van die rioolsuiweringsaanleg aan te pak en hoe dinge in die toekoms bestuur gaan word. AfriForum het ook as deel van die meer deursigtige verhouding in die toekoms aangebied om opleiding aan te bied waar nodig,” lui ’n verklaring van die Stellenbosch-tak.
AfriForum het verlede November private watergehaltetoetse laat doen ná gerugte van die storting van ongesuiwerde rioolwater in die riviere. Dié watermonsters het glo op gevaarlike vlakke van rioolbesoedeling in die Plankenbrug-, Veldwagters- en Eersterivier gedui. Die organisasie sê nou hy is tevrede met die vordering wat gemaak is sedert die bekommernisse oor die swak watergehalte aangemeld is.
Van die verbeterings was die vervanging van ’n verouderde mangat in Desember 2023. Volgens die munisipaliteit was dit nie onverwerkte riool wat in die rivier gevloei het nie, maar dit was eerder ’n “verkeerde interpretasie”.
Nuwe kontrakteurs is aangestel om die rioolwerke te bestuur volgens AfriForum, maar die munisipaliteit het verduidelik die aanleg bly onder munisipale bestuur, met ondersteuning van ’n diensverskaffer wat tydelik ingebring is om vakatures te vul en spesialiskundigheid te verskaf, soos dié van Klas V-prosesbeheerders, wat skaars is in Suid-Afrika, het Stuart Grobbelaar, munisipale woordvoerder, by navraag verduidelik.
Grobbelaar meen die onlangse besoek het die “uitstekende bedryfstatus” van die aanleg bevestig.
“Geen probleme of uitdagings is geïdentifiseer nie. Die aanleg werk optimaal, wat ondersteun word met gereelde instandhouding, en die verligting van beurtkrag verseker verder ononderbroke bedrywighede,” het hy gesê. Volgens die Stellenbosch-munisipaliteit erken AfriForum die aanleg as ’n simbool van bedryfsuitnemendheid.
Jacques Benade, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Boland, sê die organisasie verskuif sy fokus na ander rioolwerke om te verseker dat gehalte gehandhaaf word. AfriForum het by drie punte watermonsters geneem, wat na ’n onafhanklike laboratorium vir ontleding gestuur sal word.
Die monsters is stroomop van die uitvloei van die waterwerke, by die uitvloei self en stroomaf in die rivier geneem.
Die ander betrokkenes het hul eie monsters geneem vir toetsing en het ooreengekom om volgende jaar weer te vergader en die uitslae te bespreek.
Volgens die munisipaliteit erken AfriForum die aanlag as ’n simbool van bedryfsuitnemendheid. Die plan is glo om die sukses van die Eikestad se aanleg as ’n model te gebruik vir die ontwikkeling van ’n metodologie om ander munisipaliteite wat met afvalwaterbestuur sukkel, by te staan. “Sedert die opknapping in 2017 het die aanleg bestendig uitsonderlike resultate gelewer. Die gehalte van behandelde afvalwater word onafhanklik deur beide die munisipaliteit en die WNNR getoets, en voldoen aan en oortref die standaarde soos in nasionale waterwetgewing uiteengesit is,” sê Grobbelaar.