Teslim Mohammed Yusuf van die energie- en watersektor se onderwys- en opleidingsowerheid (EWSETA) aan die woord.Foto:


Ingewikkelde probleme vereis vernuwende oplossings.

Met die bekendstelling van die platform van beroepsuitnemendheid (PoVE) hoop rolspelers om vindingryke oplossings te vind.

Die PoVE-program vir beroepsuitnemendheid is Dinsdag 12 November amptelik deur die energie- en watersektor se onderwys- en opleidingsowerheid (Ewseta) bekendgestel. Dit is die eerste van sy soort op die vasteland en het ten doel om Suid-Afrikaners toe te rus met die vaardighede wat vir volhoubare waterbestuur nodig is.

Die bekendstelling het verskeie besprekings, werksessies en selfs ’n hackathon behels en was daarop gefokus om Suid-Afrika se wateruitdagings die hoof te bied.

Die Universiteit Stellenbosch (US) se waterinstituut was die gasheer vir die geleentheid en het rolspelers in die watersektor van onder meer Nederland, Duitsland, Estland en die Tsjeggiese Republiek verwelkom.

Verteenwoordigers van die Europese Unie (EU), US, die departement van water en sanitasie en Capricorn TVET Kollege het aan die bespreking deelgeneem.

Teslim Mohammed Yusuf van EWSETA het die rolspelers vir hul bydraes bedank.

“Ons almal is deel van ’n ekostelsel. Ek kan sonder twyfel sê met al die jongmense hier kan ons verseker wees toekomstige geslagte sal kontinuïteit hê in dit wat ons doen,” het Yusuf gesê.

Hy het bygevoeg verskeie sleutelterme is in die besprekings uitgelig, waaronder die verbintenis tussen energie, water en kos.

“Ons is dalk hier om oor water te gesels, maar die verbinding tussen energie en kos kan nie onderskat word nie. Hier is volhoubaarheid weer ter sprake. Ek vra my gereeld af hoekom doen ons dit wat ons doen? Dit is eenvoudig – ons doen dit vir die geslagte wat kom,” het Yusuf gesê.

Die praktiese vaardighede wat in die watersektor nodig is en die wyse waarop maatskappye geleenthede kan skep vir diegene wat die sektor betree, was ook onder bespreking.

Deur die sektoronderwys- en opleidingsowerhede (SETAs) word ook gepoog om praktiese opleiding aan toekomstige ambagsmanne en -vroue vir hul loopbane in die watersektor te gee.

Die jongmense wat die PoVE bygewoon het, is aangespoor om die regte gesindheid te hê vir hul loopbane en aan te hou leer en hul vaardighede te verbeter.

Boniswa Hene van die departement van water en sanitasie het die belangrikheid van samewerking in die sektor uitgelig en meen die staat kan nie alleen na die sektor omsien nie.

Sy sê die departement is opgewonde om saam met rolspelers te werk om hande te vat om waterbestuur te baat.

You need to be Logged In to leave a comment.