Waterlek onopgelos, Stellenbosch-munisipaliteit ondersoek nog

Die waterskade aan die woning van Wayne Bergstedt van The Ridge in Stellenbosch word nog ondersoek en sodra die Stellenbosch-munisipaliteit se ondersoek afgehandel is, sal die bevindinge bekend gemaak word.


Die waterskade aan die woning van Wayne Bergstedt van The Ridge in Stellenbosch word nog ondersoek en sodra die Stellenbosch-munisipaliteit se ondersoek afgehandel is, sal die bevindinge bekend gemaak word.

Dít was die kommentaar van Stuart Grobbelaar, ’n woordvoerder van die munisipaliteit, op die navraag van Eikestadnuus oor die ses maande lange briefwisseling tussen die betrokke partye en die probleem wat nie opgelos kan word nie. Grobbelaar het Maandag (23 Oktober) in ’n verklaring gesê munisipale werkers van die waterafdeling het Bergstedt se woning in Rooipeperstraat verlede Donderdag (19 Oktober) besoek om ondersoek in te stel.

Stellenbosch

Wayne Bergstedt staan in sy agterplaas by die waterpyp wat lek.

Gekraakte mure en houtafskortings asook vloerteëls wat lig, is van die skade aan inwoners se huise.Foto:

“Die munisipaliteit is bewus van die voorval en het die woning besoek om ondersoek in te stel. Die waterafdeling is tans besig met hul ondersoek om so spoedig moontlik die probleem op te los en sodra die ondersoek afgehandel is, sal ons ons bevindinge bekend maak,” sê Grobbelaar.

Volgens Bergstedt het die probleem in Mei die kop uitgesteek toe hy en vier ander bure gekla het oor die water wat deur hul huise loop, hul mure laat kraak, vloerteëls lig en die vloer laat sak. Vyf huise word deur die waterprobleem geraak en die vyf bure sukkel om agter die kap van die byl te kom oor wanneer die probleem eindelik opgelos gaan word.

“Sedert ons die eerste keer die probleem aangemeld het, het die munisipaliteit ondersoek kom instel en die fout in die pad opgespoor; ons het gedink die probleem is opgelos. Middel-Augustus het my buurman agter my kom kla dat water van my huis na syne loop,” vertel Bergstedt.

“Ek het ’n gat in my agterplaas gegrawe om te kyk of een van my waterpype lek en ek het die maatskappy, Leak Detection, op my eie onkoste laat kom om my waterpype te kom toets, en die toets was negatief. Ek en my buurman het toe ons wyksraadslid, Roy van Rooyen, genader en gevra of hy die probleem by die munisipaliteit kan aanmeld sodat die oorsprong vanwaar die water loop, opgespoor kan word. Die werkers het uitgekom om te kom toets en chloor in die water gevind. Vir twee weke het alles stilgestaan en ek is weer na Van Rooyen toe om uit te vind of daar al antwoorde is.”

Die werkers het weer uitgekom en het na bewering aan Bergstedt gesê die hoë watervlak kan moontlik die probleem wees.

“Ek woon al 30 jaar hier en dis nou die eerste keer dat ek hoor die hoë watervlak is die probleem. Ek het solank navraag by my versekeraars gedoen oor die herstel van die gekraakte mure en vloerteëls wat oplig, maar hulle verweer is dat dit die munisipaliteit se probleem is, omdat hulle die probleem veroorsaak het. Ek het dus nou nog dié probleem ook wat ek moet oplos, oor wie nou vir my skade aan my huis gaan betaal,” sê Bergstedt.

Die afgelope ses maande was daar gereeld korrespondensie tussen Bergstedt en die munisipaliteit, maar vir hom en sy bure het dit gevoel asof die munisipaliteit sloer om die probleem op te los.

Die afgelope Maandag was daar weer ’n vergadering tussen die betrokke inwoners en die munisipaliteit, en Grobbelaar se verklaring oor die ondersoek wat nog aan die gang is, is uitgereik.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.