Die waterpolo-seisoen het ná ’n lang winter vir die spanne van Paul Roos Gimnasium (PRG) goed begin, met die o.19A- en o.19B-span wat Vrydag 20 en Saterdag 21 Oktober aan die o.19-waterpolotoernooi van Rondebosch Boys’ High deelgeneem het.

Albei spanne het goed gevaar, maar dit was veral die o.19A-span wat uitgeblink en die toernooi onoorwonne afgesluit het. Die o.19A-span het met Somerset College (4-3), Camps Bay High (9-2) en die Hoërskool Westerford (5-2) afgereken.

Die skool se o.19B-span het hul wedstryde teen Sacs (4-3) en Reddam (7-2) gewen, maar teen die gasheer met 3-4 vasgeval. Die span het in sy laaste wedstryd gelykop met Wynberg Boys’ High (4-4) geëindig.

Die o.19A-span was daarna weer teen Reddam (6-4) en Bishops (5-3) in aksie, en het omtrent skoonskip gemaak.

Die skool se o.14A-span het ook teen Bishops en Reddam te staan gekom en hulle goed van hul taak gekwyt deur 6-6 gelykop te speel met Bishops en met 4-3 teen Reddam te seëvier.

Die PRG- o.15-span kon ongelukkig nie die knoop deurhak nie, en het naelskraaps met 7-8 teen Bishops verloor.

You need to be Logged In to leave a comment.