Die land se beste spellers gaan kragte meet in die eindronde van die Sanlam WOW-spelfees.
Meer as 375 leerders van 187 skole dwarsoor Suid-Afrika, het gekwalifiseer vir die nasionale eindronde wat Saterdag 19 Oktober by die Universiteit Stellenbosch (US) plaasvind.
“Die Sanlam WOW-spelfees is ’n vlagskip-projek van die Woordfees en Woorde Open Wêrelde (WOW). Die nasionale eindronde is die kersie op die koek,” sê Saartjie Botha, direkteur van die Toyota US Woordfees en WOW-projek.
“Die spelfees is ’n inisiatief wat op voortgesette ontwikkeling gerig is, nie net van leerders se kennis van taal- en spelreëls nie. Dit brei hulle woordeskat uit, is ’n uitstekende oefening in konsentrasie en gee hulle selfvertroue om gemakliker voor vreemdes te praat. Dis vir ons ’n voorreg om leerders, ouers en onderwysers in Stellenbosch te ontvang.”
Sydney Nhlanhla Mbhele, Sanlam se hoofhandelsmerkbestuurder, sê dis vir Sanlam ’n eer om vanjaar vir die vyfde keer die naamborg van die spelfees te wees: “As ’n verantwoordelike korporatiewe maatskappy is Sanlam daartoe verbind om ’n blywende nalatenskap te laat vir die gemeenskappe wat ons dien. Ons doen dit deur gesamentlike waarde te skep, ? invloed te hê op groeiende besigheid en ook gereeld ons bydrae tot sosio-ekonomiese ontwikkeling te meet. Ons ag dit belangrik om vennootskappe te vorm met geloofwaardige ondernemings wat ook ’n waardevolle bydrae kan lewer en waarmee ons geassosieer wil word.”
Fiona van Kerwel, die WOW-projekbestuurder, sê die terugvoer oor die spelfeeste is geweldig motiverend vir haar en haar span, wat die land deurkruis om te sorg dat die verskillende rondes van die kompetisie – van skoolvlak, dan na kring-, distriks- en provinsiale vlak – glad verloop: “Regoor die land is opvoeders, ouers en onderwysdepartemente dit eens dat die WOW-spelfees help met om taalvaardighede op te skerp en selfvertroue op te bou.”
WOW ondersteun meertaligheid en het weer spelfeeste vir Engels Eerste Addisionele Taal vanaf graad 6 tot 9 in die Wes-, Noord- en Oos-Kaap aangebied. Sedert 2017 bied WOW ’n Xhosa-spelfees vir graad 6 en 7 in vier distrikte van die Wes-Kaap aan. Vanjaar is ook ’n spelfees vir graad 3 in een van die Wes-Kaapse distrikte geloods.
Dr. Leslie van Rooi, Senior Direkteur: Sosiale Impak en Transformasie aan die Universiteit Stellenbosch, sê die spelfees lewer ’n wonderlike bydrae tot nasiebou: “Oor die afgelope maande het leerders, onderwysers en ouers van alle provinsies van ons land saamgekom om te klank en spel. Dit het in sommige areas in drie van ons nasionale tale plaasgevind en in alle gevalle het ons oor ons kwansuise grense ontmoet. Selfs wyl ons kompeteer kon ons mekaar vind.”
Hy sê dis lekker om te weet Stellenbosch kan nou met die nasionale eindronde gasheer speel vir ’n kompetisie wat die land se ryke diversiteit bymekaar bring.
Die nasionale eindronde van die Sanlam WOW-spelfees word op Saterdag, 19 Oktober, by die Universiteit Stellenbosch aangebied en die kompetisie begin om 10:00. Die prysuitdeling sal om 15:00 in die Adam Small-teaterkompleks plaasvind.