Tinarie van Wyk Loots speel in Huis van sand, een van die teater hoogtepunte op die program van die 2025 Toyota Stellenbosch Woordfees. Foto: Nardus Engelbrecht

STELLENBOSCH – Die 2025 Toyota Stellenbosch Woordfees is gisteraand op onvergeetlike wyse bekendgestel by die elegante Lanzerac-wynlandgoed in Stellenbosch, waar media en borge bymekaargekom het om die amptelike bekendstelling van vanjaar se feesprogram te vier.

Die gaskunstenaar vir die aand, die gewilde komediant Nic Rabinowitz, het die gehoor laat skater met sy kenmerkende spitsvondigheid en skerp waarnemings.

Saartjie Botha, die feesdirekteur, sê sy dink vanjaar se program is dalk die beste tot nog toe. Van toneel en musiek tot letterkunde, dans, films, visuele kunste en nog baie meer – die fees spog met ’n kragtige aanbod wat gehalte, verskeidenheid, diepte en vermaak vier. “Vanjaar se program is ’n spesiale kopknik na die letterkunde, die onstsaansrede en ’n kwarteeu later steeds die hart van die fees,” sê Botha.

Wees deel

Hierdie jaar se tema, “Deel”, weerspieël ’n kollektiewe verlange na herverbinding – om te luister, te gee, te vier wat ons in gemeen het en om ons uiteenlopende stemme te eer. “Om te deel, is nie om te verminder nie. Die Woordfees se manier van deel skep méér, maak heel, vermeerder – uitkomste, geleenthede en genade. En dit, uiteindelik, is die sukses van ’n kunstefees – dit is ’n betekenisvolle vermenigvuldiger,” het Botha by die bekendstelling gesê.

Gaste is bederf met ’n eksklusiewe eerste kykie na die hoogtepunte in die program, wat saamgestel is om dialoog en ontdekking oor alle genres heen aan te moedig.

Die Universiteit Stellenbosch-koor dal weer eens feesgangers met hul engelstemme vermaak. Foto: Corné Venter

Op die program

Teaterhoogtepunte sluit in die langverwagte terugkeer van Breyten Breytenbach se Boklied onder regie van Marthinus Basson, Die ander dogter met Sandra Prinsloo, Liefde, Lafras met Antoinette Kellermann, die wenner van die Reinet Nagtegaal-teksprys vir teater, Huis van sand deur Dianne du Toit Albertze, sowel as die naaswenner, Die kabinet deur André Gerber.

Vir die eerste keer het die Woordfees vanjaar twee feesdigters: Antjie Krog en Siphokazi Jonas. As deel van die Skrywersfees is daar ’n Dag van poësie sowel as ’n Dag van

geskiedenis. Die Skrywersfees spog met ’n sterk en uiteenlopende program saamgestel deur Bibi Slippers.

Die dinamiese kunsduo Xhanti Zwelendaba en Benjamin Stanwix deel die eer as vanjaar se feeskunstenaars.

Kaartjieverkope vir die 2025 Toyota Stellenbosch Woordfees open amptelik op Woensdag 26 Junie 2025. Die program is aanylyn by woordfees.co.za beskikbaar. Getroue feesgangers het ’n week om deur die program te blaai, hul fees te beplan en hul kaartjies aan te skaf.

Die gedrukte feesgids sal ook vanaf 26 Junie beskikbaar wees by die kaartjiekantoor by Erfurthuis, Ryneveldstraat 37, Stellenbosch. Hou die Woordfees se sosiale media dop en deel in die vreugde van die dinamiese en lewendige 2025-program.

  • Die Toyota Stellenbosch Woordfees vier vanjaar sy 25ste bestaansjaar danksy die volgehoue ondersteuning van individue, maatskappye en instellings soos: Het Jan Marais Nationale Fonds, die hoofborg, Toyota, die stigtersborg, die Universiteit Stellenbosch, Netwerk24, Spier-wyne – om maar net ’n paar te noem.

You need to be Logged In to leave a comment.