Een van die beter nuwejaarsvoornemens vir 2022 is moontlik om jou huis se veiligheid te verskerp.
Daar is altyd ruimte vir verbetering wat die veiligheid van jou gesin en eiendom betref, sê Charnel Hattingh van Fidelity ADT. Daarom is dit belangrik om jou huisveiligheidsgewoontes en -stelsels gereeld te hersien.
“As jy dit nie gedoen het voordat jy voor die feestyd weggegaan en gaan vakansie hou het nie, maak tyd om te bepaal wat jy anders kan doen wanneer dit by huisveiligheid kom en wat dalk verbeter moet word.
“ ’n Eenvoudige voorbeeld is die behoorlike keuring van nuwe huishoudelike personeel. Baie mense stel nuwe personeel aan, maar doen nooit ’n agtergrondondersoek of kry afskrifte van hul ID’s en ander persoonlike inligting nie.
“Mense wat op jou eiendom werk, is ’n integrale deel van die algehele veiligheid van jou gesin en besittings. Dit is baie belangrik om te weet dat jy op hulle kan vertrou en staatmaak.”
Vyf wenke vir beter VEILIGHEID in die nuwe jaar:
1. Leer jou bure ken. Veiliger woonbuurte begin by kommunikasie tussen inwoners. Jou bure kan jou eiendom dophou as jy weg of by die werk is, en omgekeerd. Hulle kan ook maklik iets sien wat nie reg is nie as hulle jou daaglikse roetine ken.
2. Sluit aan by die Gemeenskapspolisiëring (GPF) se Whatsapp-groep. Dit is ’n maklike manier om op hoogte te bly van gebeure in jou woonbuurt en straat en om hulp in ’n noodgeval te kry. Al die gebied se veiligheidsmaatskappye en lede van die GPF is op hierdie groepe en kan vinnig op verdagte aktiwiteite of noodgevalle reageer. Wees altyd bedag daarop om by die groep se reëls te hou en om nooit misdaadinligting te plaas sonder die toestemming van die administrateurs van die groep nie.
3. Belê in meer eksterne veiligheidstelsels. Goeie huisveiligheid begin met ’n veilige omtrek, wat dan ondersteun moet word deur behoorlike veiligheidstelsels in die huis en tuin. Elektriese heinings, laserstrale (beams) buite, kringtelevisie en sensorligte is bewese afskrikmiddels. Elektriese heinings, strale en kameras moet aan ’n gewapendereaksiediens gekoppel word as jy die maksimum voordeel uit hierdie sekuriteitstelsels wil benut.
4. Wees meer waaksaam. Praat met die gesin en jou huispersoneel oor dinge soos hoe om by die huis te vertrek en aan te kom, deure en veiligheidshekke te sluit, versigtig te wees vir vreemdelinge by die hek en om te weet wat om in ’n noodgeval te doen. Almal moet weet hoe om hul veiligheidsmaatskappy en/of die polisie vinnig telefonies te bereik of die alarmstelsel en paniekknoppies te gebruik.
5. Laat ’n veiligheidsontleding by jou huis doen. Die raad van ’n kenner kan jou help om te besluit oor veiligheid wat by jou leefstyl en leefruimtes pas. Tegnologie het geweldig ontwikkel om moderne huise en leefstyle aan te vul, misdadigers weg te hou en die regte hulp te kry wanneer jy dit die nodigste het.
Ondersoek wat beskikbaar is en laat ’n veiligheidskenner help om oplossings pasklaar vir jou gesin en jul huis te maak.
“Om te heroorweeg hoe veilig jou gesin by die huis is, is ’n goeie begin vir die nuwe jaar. Anders as ander nuwejaarsvoornemens kan dit ernstige gevolge hê as jy jul veiligheid moet verbeter, maar dit uitstel. Wees eerder veilig as jammer deur nou die nodige verbeterings aan te bring,” sluit Hattingh af.