Motoriste moet veral in die Stellenbosch- sakekern en in Technopark op hul hoede wees nadat die plaaslike polisie ‘n toename in motordiefstal bevestig het.

Die diefstal van voertuie het volgens kapt. Nathalie Martin, ‘n polisiewoordvoerder, in veral hierdie gebiede toegeneem.

Sy het bevestig skelms is veral tussen 03:00 en 06:00 asook 18:00 en 21:00, en dan weer laataand bedrywig. Dit is veral eienaars van Volkswagen Polo’s en Toyota Fortuners wat op die uitkyk moet wees aangesien hierdie twee handelsname erg deurloop.

Martin sê hoewel niemand in hierdie stadium in verband met die diefstal in hegtenis geneem is nie, word daaglikse optredes uitgevoer om die gesteelde voertuie op te spoor.

Die polisie stel voor motoriste kry ‘n slot vir hul stuurwiel en ratkas. Motoralarms en opspoortoestelle word ook aanbeveel.

Dit is die beste om alle voertuie in ‘n gebied te parkeer wat goed belig is. “Kontak die polisie so gou as moontlik wanneer ‘n voertuig gesteel word en probeer om ‘n behoorlike beskrywing van die voertuig se voorkoms te gee. Sodra ‘n klagte ontvang is, kan die polisie maatreëls instel om die voertuig op te spoor,” verduidelik Martin.

Hoewel Martin dit nie kon bevestig nie, sê sy die moontlikheid van ‘n sindikaat word nie uitgesluit nie.

You need to be Logged In to leave a comment.