Brandbestryders, boere en vrywilligers spook steeds almal saam om die dae lange brand in die Franschhoek-gebied uiteindelik te blus.
Die brand, wat teen Maandag (12 Januarie) oor sowat 55 km en na beraming 17 000 hektaar gestrek het, het verlede Woensdag (7 Januarie) teen die berg- hange agter die Langrug- informele nedersetting in Franschhoek uitgebreek.
Gister (Woensdag 14 Januarie) was daar steeds geïsoleerde gebiede oop grond in Franschhoek wat aan die brand was, met die snikkende hitte en wind wat brandbestryders se taak die afgelope week bemoeilik het.
Anton Bredell, die minister van plaaslike regering, omgewingsake en ontwikkelingsbeplanning vir die Wes-Kaap, het Maandag (12 Januarie) op ‘n inligtingsessie gesê in ‘n stadiun was daar op een tydstip 25 gelyktydige brande in die provinsie. “In enige ander provinsie sou dit chaos gewees het, maar hier het ons ‘n stelsel wat goed werk,” meen hy.

Bredell het saam met die plaaslike burgemeesters Jeremy Fasser (Stellenbosch), Stephen Korabie (Drakenstein) en dr. Elna von Schlicht (Kaapse Wynland) en lede van die media terugvoer van die multi-dissiplinêre taakspan oor die voortslepende brande ontvang.
Volgens Dale Nortje, die bestuurder van Winelands Fire Protection Services (WFPS), is 200 brandbestryders hard aan die werk om die brand in Franschhoek te blus.
Nortjie sê op die eerste dag het 139 ha afgebrand en teen verlede Donderdag het 2 000 ha in die slag gebly nadat winde van 80 km/h die brandbestryding belemmer het. Teen Sondag (11 Januarie) het 12 839 ha grond afgebrand.
Die grootste stryd was om die brand onder beheer te kry om enige lewensverlies en skade aan infrastruktuur te voorkom.
Die meenthuis van die Chamonix-landgoed en ‘n trekker het egter tydens die brande in die slag gebly en Franschhoek-inwoners was vir ‘n paar dae ook sonder elektrisiteit. Die kragonderbrekking het gevolg nadat ‘n brandende boom Sondag op kragdrade geval het. Herstelwerk is intussen voltooi.

Nortje sê die plan was vandeesweek om aggresief op te tree deur spesifieke gebiede onder spanne se toesig te laat uitbrand en om enige brandpunte so gou as moontlik onder beheer te bring.
Intelligensie en die logostiek van die brandbestyding word deur CapeNature behartig. Nkosinathi Moyo, die beplannings-afdelingshoof, is verantwoordelik om inligting in te samel en saam met die span te besluit wat die beste optrede is.
Moyo se CapeNature-kollegas is op hul beurt verantwoordelik om tred te hou van al die beamptes op tonele, om seker te maak hulle kry kos en iets om te drink, en om enige bykomende spanne op dreef te kry.
Volgens Nortje is die vermoede dat die brand gestig is. Fasser sê dit is altyd moeilik om vas te stel presies hoe brande ontstaan, maar meen bewusmaking moet brandstigting help voorkom.
LEES OOK: Fires devastate wine farms in Franschhoek, Wemmershoek areas
“Elke brand het ‘n groot uitwerking op munisipale bronne. Dit verg geld en hulpbronne om dit te bestry – veral vir die Stellenbosch-munisipale gebied, wat grootliks landelik is en oor vele oop gebiede strek, soos Kylemore en Fransch- hoek. Dit raak moeilik om brande te bestry . . . en toe te sien dat geen lewensverlies of skade aan infrastruktuur voorkom nie. Ons het die afgelope paar dae die verpletterende uitwerking wat brande het en hoe moeilik dit is om dit onder beheer te bring, beleef,” sê Fasser.
Hy sê mense moet herinner word om nie sigaretstompies by hul motorvenster uit te gooi nie, maar wat die grootste verskil sal maak, is om meer bronne en personeel aan te stel. Die begroting vir hierdie bykomende uitgawes bly altyd ‘n uitdaging.

Fasser sê voorts voorkoming bly dus uiters belangrik. Bredell het gewaarsku alle aanduidings van die weerdiens is dat warm en droë maande voorlê, wat beteken die brandseisoen kan dalk langer as gewoonlik strek.
Brandbestryders in die provinsie blus brande reeds sedert September – lank voor wat as die amptelike brandseisoen vir die Wes-Kaap beskou word.
Anesca Roodt, ‘n woordvoerder vir die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit, het gister bevestig goeie vordering word gemaak om die brand te blus en spanne bring enige opvlamming in Wemmershoek so gou as moontlik onder beheer.






You must be logged in to post a comment.