Wen in laaste stryd ’n moet vir Van der Stel-Evergreens

Vyf punte is wat Van der Stel-Evergreens (VDE) Saterdag (19 Augustus) teen die Goodwood-rugbyklub op sy tuisveld in Stellenbosch moet inoes om te verseker dat hy onder die twee topspanne in die Westelike Provinsie-rugbyunie se Superliga C-kompetisie

Marshallino Brits, vleuel van Van der Stel-Evergreens, in aksie teen Hamediehs in Athlone. VDE is die enigste span wat vanjaar Hamediehs kon klop.Foto: Peter Abrahams (Son)

Credit: SYSTEM

Vyf punte is wat Van der Stel-Evergreens (VDE) Saterdag (19 Augustus) teen die Goodwood-rugbyklub op sy tuisveld in Stellenbosch moet inoes om te verseker dat hy onder die twee topspanne in die Westelike Provinsie-rugbyunie se Superliga C-kompetisie eindig.

Die twee spanne wat onderskeidelik eerste en tweede eindig, dring outomaties deur na die halfeindstryd van die topseskompetisie om te bepaal watter twee spanne aanstaande jaar in die 2024-Superliga-B gaan meeding.

Die ses spanne wat in aanmerking vir die topses kom, vertoon tans soos volg op die punteleer: VDE bo, gevolg deur Hamediehs van Athlone, Macassar, Goodwood, Kraaifontein en Pniël Villagers. Eersgenoemde twee het vanjaar die kaarte in Superliga C deurmekaar gekrap. Albei het verlede jaar in die Noordelike en Suidelike sones gespeel en is in 2022 na die topnege en Superliga C opgeskuif.

Die ander spanne in Superliga C speel al langer as twee jaar in die kompetisie en het gedink hulle kan oor die twee sone-spanne vanjaar loop, maar al twee het gewys hulle moet liewers nie onderskat word nie.

Interessante tye lê in die oorblywende ligawedstryde voor. Niemand gaan vir sy teenstaander ’n guns bewys nie.

Al die spanne wil onder die topses eindig en verkieslik nie in die kwarteindstryde betrokke wees nie. Hamediehs kan bo eindig as hy tien punte in sy oorblywende twee wedstryde teen Albions van Paarl en Kraaifontein insamel.

VDE, Macassar en Goodwood speel Saterdag hul laaste wedstryd in die kompetisie en die puntestand op die punteleer is tans soos volg: VDE 55, Macassar 53 en Goodwood 50, terwyl Hamediehs op 52 staan met twee wedstryde oor.

Gedurende die maand van Ramadaan het geen Moslem-klub gespeel nie en hulle moet nou hul agterstallige ligawedstryde afhandel. Daarmee in gedagte, en indien VDE en Hamediehs hul oorblywende wedstryde wen, kan hulle na die halfeindstryde van die topses deurdring. Dit sal beteken dat Hamediehs op 62 punte en VDE op 60 sal eindig, terwyl Macassar op 58 en Goodwood op net 55 sal eindig.

Spanne het nog kans om hul uitstaande wedstryde voor die einde van Augustus af te handel.

Die feit dat spanne in die eerste twee posisies op die punteleer eindig, tel nie vir outomatiese kwalifikasie om in 2024 in Superliga B te gaan speel nie. Al ses spanne sal sake moet uitspook om te bepaal wie opgaan en wie volgende jaar weer in Superliga C meeding.

VDE is ook die enigste span wat Hamediehs vanjaar kon troef, maar VDE het ’n bietjie drooggemaak deur gelykop te speel teen Scottsdene-Central (5-5) en teen Macassar te verloor (24-22).

Daarna het VDE met Rangers en Blue Stars van Klapmuts afgereken.

VDE het homself in die meeste wedstryde in die voet geskiet deur die meeste wedstryde sonder ’n bonuspunt te wen.

Alle oë sal dus Saterdag op die stryd tussen VDE en Goodwood op die Bergzicht-sportveld wees en volgende week op die stryd tussen Kraaifontein en Hamediehs om die twee topposisies in Superliga C te bepaal.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.