Die grootskaalse Theuns Jordaan Tribute-konsert maak Saterdag 6 Januarie ’n Kaapse draai!
Die konsert het vroeër vanjaar die room van Suid-Afrika se kunstenaars voor ’n skare van meer as 20 000 toeskouers by Loftus Versveld in Pretoria byeengebring. Die wêreldklas-produksie, wat hulde bring aan die ikoniese Theuns Jordaan, word vroeg volgende jaar by die DHL-stadion in Kaapstad aangebied.
Die 14 Afrikaanse kunstenaars wat by die Pretoria-konsert opgetree het, sal ook in Kaapstad op die verhoog wees om Jordaan se liedjies in ’n uitnemende produksie te laat herleef.
Konsertgangers kan uitsien na vertonings deur Steve Hofmeyr, Juanita du Plessis, Kurt Darren, Ray Dylan, Dozi, Bobby van Jaarsveld, Karlien van Jaarsveld, Ricus Nel, Jay du Plessis, Bok van Blerk, Danny Smoke, Liezel Pieters, Lianie May en Jacques du Plessis.
“Die Loftus-konsert was ’n groot viering van Theuns se lewe en musiek. Die konsert het almal se verwagtinge oortref,” verduidelik die konsertorganiseerder, Sonett de Villiers.
“Dit was een van die mooiste en grootste gebeurtenisse in Afrikaanse musiek nog. Dit was verseker ’n enig-in-sy-soort musikale belewenis en spreek boekdele vir Theuns se nalatenskap sowel as van die kunstenaars, produksiespan en kreatiewe leierskap wat passievol te werk gegaan het.
Die laat Jordaan se liedjies herleef in ’n reuse produksie wat deur die gesoute vervaardigers Andries Pieterse, Deedee Oosthuizen en Floors Oosthuizen behartig word, in samewerking met Jordaan se jarelange vriend Jacques du Plessis.
Die konsert begin om 19:00. Kaartjieverkope is tot 20 000 kaartjies beperk. Kaartjiepryse beloop R295 tot R385.
Koop jou kaartjies aanlyn by https://itickets.co.za/events/474125.
WEN! WEN! WEN!
Eikestadnuus-lesers staan ’n kans om een van drie dubbelstel algemene arena staan- kaartjies teen R350 elk te wen. Om jou naam in die hoed te gooi, skandeer die QR-kode en teken in op die weeklikse nuusbrief vanEikestadnuus. Die kompetisie sluit om 16:00 Maandag 11 Desember en die wenners sal via e-pos gekontak word.