Wêreldrekord buite bereik

Vier vriende van Stellenbosch het die afgelope naweek ’n poging aangewend om die Guinness-wêreldrekord vir langste marathon-dubbelspeltenniswedstryd van 72 uur sonder ophou te speel.


Vier vriende van Stellenbosch het die afgelope naweek ’n poging aangewend om die Guinness-wêreldrekord vir langste marathon-dubbelspeltenniswedstryd van 72 uur sonder ophou te speel.

Die egpare Casper en Ashley Steenkamp en Soph-Mari en Kempen Claassens kon egter net daarin slaag om 56 uur en 20 minute te speel voordat hulle tou opgegee het.

Dit het hulle egter nie gekeer om die volle tyd van 72 uur te voltooi nie. Hulle het van Donderdag 19 Januarie om 19:00 tot Sondagoggend 03:20 by die Kuyasa-sentrum in Khayamandi gespeel.

Die bestaande rekord is 61:15:43 en is deur Glenn Pope, Jamie Blair, Katie Bailey, (van Australië) en Hannah Bierre (Nieu-Seeland), in Melbourne, Victoria, Australië, tussen 28 Februarie en 2 Maart 2019 opgestel.

Casper sê die poging was deel van ’n geldinsamelingsinisiatief vir Global Missions, ’n godsdiensorganisasie.

“Ons het ’n passie vir globale missies en het besluit om hierdie wonderlike geleentheid te gebruik om bewustheid te skep en geld vir globale missies te werf. Terwyl die poging gewend is, het lofsang-en-aanbidding-spanne van verskeie bedieninge en kerke ononderbroke lofprysing en aanbidding by dieselfde lokaal gehou.

“Hulle het ook vir al die nasies gebid en ingetree,” verduidelik Casper.

“Dit was uitdagend, maar lekker. Dis ’n jammerte dat ons nie die rekord kon ewenaar of verbeter nie, maar dit was ’n sekondêre saak vir ons – die hoofdoel was om dissipels vir Christus te wen.

“Dit was iets wat God ons op die hart gelê het. Dit is ’n langtermyn-inisiatief en ons gaan elke maand iets unieks doen om mense te bereik.”

Hy sê dit was ook baie mooi om te sien hoe die “Liggaam van Christus” bymekaar gekom het.

“Dit was ’n ongelooflike ervaring. Ek sal nie verbaas wees as ons dit weer probeer nie. Daar gaan ongelooflik baie beplanning in so iets en die reëls is baie spesifiek,” voeg hy by.

“Vir meer inligting, om betrokke te raak of om skenkings te doen, besoek ons webwerf by www.kingdomdna.org/tennis4missions of kontak my by casper@kingdomdna.org of 071 471 0631.”

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.