’n Dierbare mens wat niemand sou leed aandoen nie . . .
Dit is hoe inwoners van Cloetesville die ma beskryf wat Woensdagoggend (26 Junie) deur vermoedelik ’n dwaalkoeël in die buurt getref is.
Die polisie was vroegoggend op die toneel in Pinestraat waar sy doodgeskiet is.
Volgens die gemeenskap was die vrou en ’n kollega op pad werk toe toe hulle vinnig by die winkel onderkant die straat gestop het om iets te koop.
’n Oor-en-weer skietery in die straat het haar egter oor die pad laat hardloop om te koes en sy is getref.
Volgens inligting is die vrou in haar kop en rug raakgeskiet.
Gemeenskapslede het weer eens gevra wanneer die misdaad in die buurt gaan stop, aangesien inwoners daagliks in vrees leef om hul voete buite die huis te sit. “Ons gemeenskap lewe in vrees en ons kinders is bang om in die pad te speel – as gevolg van jou. Jy skiet soos ’n mal ding, maar sodra die polisie kom, hardloop jy van dak tot dak,” het een inwoner in ’n ope brief aan die skieters geskryf.