Wyle David Williams is verlede Woensdag deur ’n swerm bye gesteek en het op pad hospitaal toe aan sy wonde beswyk. Foto:


’n Man (58) van Idasvallei het verlede Woensdag 2 Februarie op pad hospitaal toe aan sy wonde beswyk nadat hy by sy werksplek deur ’n swerm bye gesteek is.

David Williams, ’n munisipale werker, wat by die water-afdeling van die Stellenbosch-munisipaliteit gewerk het, is tydens ’n roetine skof by die Klapmuts-afvalwatersuiweringswerke deur die bye gesteek.

Volgens ’n verklaring deur die munisipaliteit is Williams verskeie kere deur die bye gesteek. Hy is kort ná die voorval deur sy kollegas na die hospitaal gehaas, maar het op pad aan sy wonde beswyk.

“Dit is met ’n baie swaar hart dat ek vandag ingelig is van die skielike en tragiese heengaan van David Williams. Namens burgemeester Gesie van Deventer, die Stellenbosch Raad en die hele administrasie betuig ek my innige meegevoel aan sy familie, vriende en kollegas,” het die munisipale bestuurder, Geraldine Mettler, ná die voorval in ’n verklaring gesê.

“Hierdie is werklik ’n hartverskeurende voorval en ek vra dat ons die familie se privaatheid sal respekteer in hierdie moeilike tyd. Die munisipaliteit sal traumaberading aan die familie en sy kollegas verskaf,” het Mettler bygevoeg.

Williams se vrou, Roseline, sê dit is steeds onwerklik vir haar. “Hy het my nog die oggend geterg op pad werk toe en het nie weer die aand teruggekom nie. Hy het nie lank vir die munisipaliteit gewerk nie, hy het maar altyd deeltyds gewerk en is einde verlede jaar vas aangestel,” sê Roseline.

Roseline sê hy was baie bekend in sy gemeenskap, veral onder die kinders in die buurt. “Hy het altyd die kinders geterg en met hulle gespeel, hulle was mal oor hom. Hulle kan nie glo dat hy weg is nie. Hy was baie lief vir braai en het amper elke Sondag gebraai en wanneer ek snoek gekoop het, het hy dit dadelik gebraai – dit was lekker vir hom en die kinders.”

Williams se begrafnis is Vrydag 11 Februarie om 08:00 by die huis en 10:00 in die Rooms-Katolieke kerk in Idasvallei.

You need to be Logged In to leave a comment.