Die 150 werkers wat verlede jaar ná #EndOutSourcing-betogings afgedank is, is nie deur Universiteit Stellenbosch (US) ontslaan nie.
US-woordvoerder Martin Viljoen sê hierdie werkers is verlede jaar deur privaatmaatskappye waarvoor hulle gewerk het afgedank.
Viljoen sê verder die studente wat Maandag 9 Mei ‘n struktuur op die universiteit se Rooiplein opgerig het, het nie toestemming verkry om te betoog nie en mag nie die struktuur opgerig het nie.
Volgens Viljoen het die US aan die einde van 2015 met dienswerkers en studente ‘n ooreenkoms bereik en is stelselmatig besig om die ondernemings wat gemaak is, te implementeer.
As deel van die ooreenkoms het die Universiteit Stellenbosch:
• ‘n moratorium geplaas op alle nuwe vorms van uitkontraktering;
• ‘n eenmalige betaling van R2 000 gemaak aan alle werkers van eksterne diensverskaffers wat op universiteitskampusse geplaas was en deur die protesaksie geraak is.
• onderneem om van Maart 2016 ‘n subsidie aan uitgekontrakteerde werkers op ons kampusse te betaal wat tans minder verdien as R5 000 per maand (koste vir die maatskappy/cost to company);
• ‘n onafhanklike hulplyn geskep waar werkers klagtes kan aanmeld, wat die US dan direk met die onderskeie werkgewers sal opneem;
• ‘n eksterne fasiliteerder aangestel om die Welwees-kantoor by te staan met onderhoude met voormalige werknemers van die US wat sedert 1994 uitgekontrakteer is;
• ‘n proses in werking gestel vir die evaluering van “lewensvatbare kontraktering”, waarna die beste praktyk bepaal sal word vir wanneer die kontrakte van huidige eksterne diensverskaffers verstryk.
• ook verlede jaar in ooreenstemming met die ooreenkoms gesprekke geïnisieer met die bestuur van huidige eksterne diensverskaffers.
Viljoen voeg by rektor en visekanselier prof. Wim De Villiers het ook ‘n formele beroep op eksterne diensverskaffers gedoen om toegeeflik te wees teenoor werkers wat aan die protesaksie deelgeneem het en teen wie dissiplinêre aksies ingestel is.