Foto ter illustrasie. Foto: Brad Neathery/Unsplash


Die provinsiale departement van kultuursake en sport nooi werklose jeugdiges tussen die ouderdom van 18 tot 25 om aansoek te doen om deel te wees van die YearBeyond-jeugdiensprogram vir 2024.

Aansoeke vir die opvoedingsprogramme is oop vir jeugdiges wat in die Wes- en Oos-Kaap woon en aan die nodige vereistes voldoen. Alle programme vereis ’n matrieksertifikaat en sommige vereis minimum punte vir tale of wiskunde.

Die YearBeyond-program bied jongmense die geleentheid om ’n jaar se praktiese werksondervinding op te doen en hul werkgereedheidsbevoegdhede op te bou, terwyl hulle in hul gemeenskap terugploeg. Die suksesvolle kandidate, bekend as YeBoneers, sal by ’n skool of gemeenskapshub geplaas word, waar hulle leerders en ouers sal help.

Die Oos-Kaapse program word deur die nasionale regering gefinansier en deur die Wes-Kaapse YearBeyond-span gefasiliteer. Die geleentheid om hierdie ervaring aan jeugdiges in die Oos-Kaap te bied, is ’n belangrike deel van vaardigheidsontwikkeling buite die Wes-Kaap.

Die sukses van die program is duidelik te sien in die terugvoer van deelnemers van vorige jare. Altesaam 96% van deelnemers glo die ervaring het hulle gehelp om hulself beter te leer ken en 95% voel die programme het hulle beter voorberei vir die werk- en studie-wêreld.

Wat baie bemoedigend is, is die feit dat tussen 75% en 78% van YeBoneers na afloop van die program gevorder het om ekonomies aktief te word wat indiensneming of studie, of ’n kombinasie van die twee, betref.

“Ek moedig ons jongmense aan om vir hierdie geleentheid aansoek te doen. Dit is ’n groot program vir ons jeug, en rus hulle toe met vaardighede om die werk- en studie-wêreld te betree. Ons wil ons jeug ’n hand bied om suksesvolle en aktiewe lede van die samelewing te word sodat hulle nie net tot die ekonomie bydra nie, maar ook hul gemeenskappe dien,” het Anroux Marais, die provinsiale minister van kultuursake en sport, gesê.

Aansoeke en verdere inligting is aanlyn by https://www.yearbeyond.org/apply. Aansoeke sluit Sondag 18 Februarie.

You need to be Logged In to leave a comment.