Vorige studente tydens Bergzicht-opleiding en ontwikkeling se 30ste bestaansjaarvieringe.Foto: Francois Lombard.


Die Stellenbosse nie-regeringsorganisasie Bergzicht-opleiding en ontwikkeling nooi werklose gemeenskapslede om aansoek te doen vir die gesondheid-en-verswakte-sorg-program.

’n Beroep word gedoen op werklose gemeenskapslede met ’n hart om na bejaardes of mense met gesondheidsuitdagings om te sien. Bergzicht is op soek na individue om hulle by die nuwe versorgersgroep vir 2022 aan te sluit. Individue tussen die ouderdom van 30 en 50 met ’n skoolkwalifikasie (gr. 10 of hoër) word genooi om aansoeke in te dien. Karaktertrekke soos geduld, deernis en fermheid sal voordelig wees vir die soort werk waarvoor hierdie program opleiding bied. Ondervinding in die versorging van ’n ouer, siek mens – selfs al is dit ’n familielid – sal ook in die aansoeker se guns tel.

“Die Covid-19-pandemie het die belangrikheid van die werk van versorgers wêreldwyd bevestig. Dit het ook die neiging na tuisversorging laat toeneem,” sê Adrian Bezuidenhout, Bergzicht se opleidingsbestuurder.

Die gesondheids-en-verswakte-sorg-program geniet ’n Vlak 2-akkreditasie van die Sektorale onderwys-en-opleidingsowerheid (SOOO) vir gesondheid en welsyn.

Suksesvolle kandidate sal die program begin met drie weke opleiding in lewensvaardighede deur die iPower-grondslagprogram, gevolg deur 15 weke se gevorderde onderwerp-gebaseerde opleiding.

Die program is opgegradeer om demensie-opleiding sowel as sagte vaardighede in te sluit. Sagte vaardighede sluit in hoe om gaste te ontvang, wegneemetes te bestel en ander behulpsame kommunikasiewenke, met die oog op tuisversorger-indiensneming.

Die organisasie staan ook gegradueerde studente ná die voltooiing van die program met hul werkaansoeke by. Elke student sal met behulp van vennootskappe by bekende plaaslike gesondheidsorg- en mediese instellings die geleentheid gegun word om praktiese ondervinding op te doen. Hierdie deel van die program, bekend as werksgeïntegreerde leer (WIL), bied ook aan studente die geleentheid om selfvertroue in die werkplek te ontwikkel. Volgens Nathalie Skippers, Bergzicht se studente-ontwikkelingsbestuurder, kry die meeste graduandi werk by ’n plaaslike ouetehuis of as tuisversorgers.

Aansoeke sluit Vrydag 29 April met onderhoude vir die eerste groep en die tweede groep tussen 4 tot 5 en 24 tot 25 Mei. Altesaam 12 suksesvolle kandidate sal gekeur word vir opleiding by Bergzicht se Stellenbosch-kampus vir vyf weke, gevolg deur praktiese opleiding (WIL). Studente sal vir hul eie vervoer tydens die volle tydperk van opleiding verantwoordelik wees, met ’n gepaardgaande vervoer­subsidie beskikbaar vir behoef­tiges. Aansoeke kan op Facebook @bergzichttraining, per e-pos na reception@bergzicht.org.za of via WhatsApp by 071 637 3029 ingedien word.

You need to be Logged In to leave a comment.