’n Groep inwoners van die Stellenbosch-munisipaliteit se wyk 3, wat Wemmershoek, Meerlust en Lanquedoc insluit, eis die onmiddellike ontbinding van hul wykskomitee, wat glo ondemokraties verkies en deur hul DA-raadslid met die hand aangewys is.
Die groep, wat hulself die “Concerned Ward 3 Residents” noem, het vandeesweek gesê die sewe lede wat tans op Charles Manuel se wykskomitee dien, is ongrondwetlik aangewys aangesien ’n verkiesing glo nie plaasgevind het nie.
“Hier het geen vergadering vir die verkiesing van ’n wykskomitee plaasgevind nie. Die raadslid het sy eie diskresie gebruik en self besluit wie hy op sy komitee wil hê. Dit was ’n ondemokratiese proses,” het Isaac Davids, ’n Wemmershoek-inwoner verbonde aan die groep, gesê.
Volgens Davids het ’n groot deel van die wyk se inwoners “nie ’n idee wie hul wykskomitee of raadslid is nie”. “As jy na plekke soos veral Meerlust gaan, waar mense in moeilike omstandighede leef, het hulle nie ’n benul wie hul leiers is en waar hulle griewe kan opper nie. Wanneer mense wel diensleweringsprobleme wil aanmeld, word hulle deur ’n ontoeganklike raadslid weggewys.
“Boonop is hierdie wykskomitee glad nie verteenwoordigend van ons breër gemeenskappe nie. Ideaal sou ’n mens verwag het dat gemeenskapsleiers en organisasies uit die onderskeie gebiede op die komitee moet dien. Tans is dit net mense wat die raadslid en sy party se belange verteenwoordig.”
Volgens Davids het Manuel inwoners op sy wykskomitee aangewys “wat hy maklik kan manipuleer”.
“Dit is almal mense met DA-belange. Daar is nie organisasies soos jou belastingbetalersvereniging nie. Net verlede week het hy iemand telefonies ingelig dat sy ’n vakante posisie gaan vul.
“Ons het al hierdie kwessie by die Speaker van Stellenbosch se raad aangemeld, maar wag tot vandag toe nog op ’n antwoord.”
Manuel het nie vandeesweek op Eikestadnuus se oproepe en boodskappe gereageer nie.
Quintin Smit, die Stellenbosch-munisipaliteit se Speaker, het by navraag gesê die raad neem kennis van die bewerings en dat ’n ondersoek deur sy kantoor geen onreëlmatighede gevind het nie.
“Wyk 3, net soos al ons ander wyke, se wykskomiteeverkiesing het volgens munisipale wetgewing en beleide plaasgevind. Ek kan met absolute sekerheid sê dat geen onreëlmatighede hier opgetel is nie.
“Bepaalde wetgewing, met die oorsig van die Onafhanklike Verkiesingskommissie, vereis dat verkiesings geadverteer word sodat almal wat hulself verkiesbaar stel, die geleentheid gegun word,” het Smit gesê.
Davids het in reaksie hierop gesê Smit en hul raadslid is “kop in een mus”, en hulle beplan om die aangeleentheid by die departement van samewerkende regering en tradisionele sake in die Wes-Kaap te opper.