Die reuse-wildevy met sy talle lugwortels op die hoek van Bosmanstraat en Banghoekweg.


Daar is baie soorte wildevye (genus Ficus): sowat 750 soorte wêreldwyd en 50 in Suidelike Afrika.

By almal het die plantsap ’n melkerige voorkoms. Almal dra ook iets wat soos ’n vrug lyk, maar wat eintlik ’n omgekeerde blomknop is met manlike en vroulike blommetjies aan die binnekant, en ’n klein opening na buite.

By hierdie opening gaan uiters klein wespes, gewoonlik elke vy met sy eie soort, in om eiers daarbinne te lê en so vind bestuiwing plaas. Albei partye, die boom en die wespe, baat dus uit hierdie assosiasie, ’n goeie voorbeeld van mutualisme.

Op Stellenbosch kan hierdie vye-wespes die beste gesien word by die Besemtrosvy (Ficus sur), ’n kleinerige boom links net oorkant die meulsloot aan die bokant van Van Riebeeckstraat, net ná die kruising met Coetzenburgweg as jy uit die middedorp ry. Hierdie boom dra trosse groot vye wat van September rooiryp word op blaarlose takkies van die stam. As jy een van hulle oopbreek, kan jy die klein wespes sien krioel. In die bos is hierdie vrugte baie gewild by voëls, vlermuise en ape, wat die sade versprei as hulle aan die vye smul.

Verskeie soorte wildevye kan in die strate en tuine van Stellenbosch gesien word. Die mees opvallende een is die Gewone wildevy (Ficus burkei, ook F. thonningii genoem), met sy dik stam en trosse lugwortels wat van die takke af hang. Sy takke sprei wyd uit en die boom kan sowat 18 m hoog word. As ’n saadjie van hierdie vy op ’n ander boom beland en dit begin groei, kan die lugwortels kombineer en uiteindelik die gasheerboom verwurg. Daarom word hierdie boom ook in Engels ’n strangler fig genoem. Hulle kom algemeen voor in die natuurlike bosse van die Oos-Kaap, KwaZulu-Natal en Gauteng, en verder noordwaarts tot in die Kongo.

Plekke in Stellenbosch waar mooi voorbeelde van die Gewone wildevy gesien kan word, is voor die Administrasiegebou A van die Universiteit Stellenbosch (vroeër Carnegie-biblioteek) in Ryneveldstraat, by Paul Roos Gimnasium, in Simonsbergstraat, naby die kruising van Bosmanstraat met Banghoekweg en net oorkant die Eersterivier by die boonste bruggie na Coetzenburg.

Daar is ook een geplant deur wyle prof. Sampie Terreblanche in die binnehoek van sy erf by Rowanstraat 8. (Weens hierdie soort se wye wortelstelsel is dit egter nie juis geskik vir huistuine nie.) Nog ’n pragtige voorbeeld is by die Deli van die plaas Boschendal net buite Stellenbosch, een van die oudste wynplase in Suid-Afrika.

Die algemeenste wildevy op Stellenbosch is Ficus microcarpa, wat in die natuur van Suid-China tot Australië voorkom, maar wat nou hierheen en na baie ander dele van die wêreld versprei is. In sommige lande is dit ’n indringerplant, maar nie by ons nie, waarskynlik omdat die wespes wat hom bestuif, nie saamgekom het nie.

’n Pragtige voorbeeld van hierdie soort is op die parkeerterrein van die NG Moederkerk te sien. Hulle staan ook langs paaie van die dorp, voor Helderberg-universiteitskoshuis en op die kampus van die Universiteit Stellenbosch. Dis een van die vyesoorte wat “banyan” (Afr. en Eng.) genoem word. Hierdie volksnaam is volgens Google ’n verwringing van die term vir Indiese handelaars wat onder hierdie bome geskuil het.

Die hoogste wildevy op Stellenbosch is sekerlik die Port Jacksonvy (F. rubiginosa) op die oostelike hoek van Die Laan. Hierdie reusagtige ou boom uit Australië lyk tans nie baie gelukkig nie, want sy blare is maar yl.

Vir my is dit nie ’n vyeboom nie, maar ’n vryboom, want in my studentedae het ek een aand in 1955 gesien hoe ’n verliefde paartjie al om die boom wegkruip as daar ’n motor verbykom!

You need to be Logged In to leave a comment.