Na afloop van ondersoek, raai die paneel aan dat die Wilgenhof-manskoshuis sy deure behoort te sluit.


Die paneel wat deur die Universiteit Stellenbosch (US) se rektoraat aangestel is om die ongerymdhede in die Wilgenhof-manskoshuis te ondersoek se hoofaanbeveling was dat die koshuis sy deure moet sluit.

“Die [US] rektoraat het die hoofaanbeveling van die paneel eenparig aanvaar dat die Wilgenhof-[mans]koshuis gesluit moet word. Die rektor sal nou by die raad aanbeveel dat Wilgenhof gesluit moet word en alternatiewe gebruike vir die geboue oorweeg moet word. Die raad sal die rektor se aanbevelings by sy vergadering op 24 Junie 2024 oorweeg.”

Volgens prof. Wim de Villiers, visekanselier en rektor, aanvaar die US die paneel se aanbeveling, maar verduidelik dat die finale besluit by die US se raad berus. “Indien die raad hierdie aanbeveling van die paneel aanvaar, sal dit tot die sluiting van Wilgenhof aan die einde van die 2024- akademiese jaar lei. Alternatiewe gebruike van die ruimte sal bespreek word met die oog daarop om dit in 2025 in werking te stel.”

Dít is volgens ’n verklaring van die paneel wat verlede week uitgereik is.

Bewysstukke wat in Januarie vanjaar die lig gesien het oor Wilgenhof se beweerde argaïese inisiasie-praktyke, met verskeie koshuis-inwoners wat die fluitjie geblaas het oor presies wat in die donker gange van Wilgenhof plaasgevind het, het Suid-Afrika aan die gons gehad.

Twee kamers, genaamd die “Strafkamer” en “Hool 88”, met verskeie toebehore in is met die media gedeel nadat ’n oudit van die koshuis se ruimtes en geriewe gedoen is voordat die nuwe inwonende koshuis­hoof (Ashwin Daniels) sy pos sou betree.

Intussen is verskeie opinies in die media geopenbaar, onder meer dié van Edwin Cameron, kanselier van Stellenbosch, asook Christo Wiese, wat in ’n vorige onderhoud met Netwerk24 gesê het die storie oor die koshuis se inisiasie- praktyke is “oordrewe”. Beide Cameron en Wiese was destyds in Wilgenhof.

Oudit van ruimtes en geriewe

Die paneel bestaan uit adv. Nick de Jager, dr. Derek Swemmer (voormalige registrateur van die Universiteit van die Witwatersrand) en Penny van der Bank (adjunkregistrateur van oorsigbestuurs­ondersteuning aan die US) wat aangestel is om “ondersoek in te stel na die inhoud wat gedurende ’n oudit van die ruimtes en geriewe in die koshuis gevind is en om aan die rektoraat verslag te doen oor hul bevindings en aanbevelings”.

Volgens die verklaring van die paneel was die [US] rektoraat se opdrag aan die paneel om die inhoud van die twee kamers te bestudeer met die volgende doelwitte in gedagte:

  • Om ’n begrip te vorm van die historiese, kulturele en simboliese dimensies van die inhoud en funksies van die twee vertrekke en dit teen die agtergrond van en kulturasiepraktyke by Wilgenhof-koshuis te oorweeg, en die rektoraat van raad te bedien;
  • Om in detail die betekenis van die inhoud en funksies van die twee vertrekke binne die breër institusionele kultuur en werksaamhede van US-koshuise te oorweeg;
  • Om te evalueer of, en in watter mate, die rekords, praktyke en algemene kultuur van Wilgenhof teenstrydig is met die waardes van die US en inbreuk kan maak op die menswaardigheid van huidige en voormalige US-personeel en studente;
  •  Om te bepaal of onaanvaarbare praktyke in Wilgenhof met verloop van tyd deur US-personeel, alumni of studente verswyg of verdoesel is; enOm te bepaal of daar bewyse van gedrag deur vorige en/of huidige studenteleierskap en/of bestuur van Wilgenhof is wat strydig is met enige beleide, regulasies of reëls van die US.

Strydig met beleide

Deur die jare is bestuursdokumente verskeie kere hersien en gewysig, aangesien die US transformasie ten volle omarm en ongeregtighede van die verlede aangepak het.

Sedert 2003 het die US hard daaraan gewerk om historiese sistemiese probleme binne die koshuisruimtes op te los en om die kultuur, ingesteldheid en praktyke aan te pas, te transformeer en te verander om dit met die Grondwet en sy beginsels, insluitend dié van menswaardigheid, te belyn.

Dit is onder meer gedoen deur die bestuur se verbintenis tot die US se visie en waardes, uitgebreide gesprekke met studente, deeglike opleiding van studente­leiers, werksessies, mentorprogramme en nuwe beleide, reëls en regulasies vir studente­gemeenskappe.

Dit sluit hersiene koshuisreëls (2021), ’n hersiene dissiplinêre kode vir studente van die US (2021), ’n nuwe koshuisplasingsbeleid (2023), asook ’n nuwe regulasie vir die aanstelling van koshuishoofde (2023) in.

Die paneel se verslag word tans deur die rektoraat ondersoek en geen datum vir besluitneming is bekendgemaak nie. Die “Nagligte” van 2020-’21 was Wilgen­hof se tugkomitee en het studente gestraf sou hulle die koshuisreëls oortree het.

Intussen het Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wetenskap en innovasie, die paneel se aanbeveling verwelkom.

You need to be Logged In to leave a comment.