Bangladesji-winkeliers in Pniël vrees vir hul lewe en sê hulle oorweeg dit sterk om die winkel toe te maak en te verhuis.
Dít kom nadat hul winkel, Pniël-minimark, verlede Donderdag 23 Junie deur vier gewapende mans beroof is.
“Dit is die tweede keer binne die bestek van ’n jaar dat ons beroof word. Die ander keer was dit twee mans en hulle was vermom, maar dié keer het die mans sonder maskers ingekom,” sê Shahidul Ismail, een van die winkelbestuurders.
Ismail verduidelik dat vier mans Donderdag omstreeks 18:40 by die winkel ingekom het. “Dit was redelik stil en hier was een of twee mense buite op die stoep. Ek het by die deur gestaan toe die mans inkom. Hulle het gemaak of hulle iets sou koop. Skielik het hulle vuurwapens uitgehaal en op ons gerig,” sê Ismail.
“Hulle het my op die grond gedwing en in my rug en op my knieë geskop. Hulle het die R1 000 wat ek in my sak gehad het en my selfoon gevat, asook R15 000 uit die kasregister, sigarette en ’n paar ander goed voor hulle weggehardloop het.”
Hy sê hy is egter ongelukkig dat nie een van die mense wat buite was alarm gemaak en die polisie ontbied het nie, hulle het net stilgebly.
“ ’n Polisieman, wat gereeld hier by die winkel kom, het ingekom net toe die rowers weghardloop en die polisie ontbied. Die mans het oor die pad in die veld in gehardloop,” verduidelik hy.
Ismail sê die mans het nie onbekend gelyk nie. “Ons het hulle al in Pniël gesien. Hulle kom nie gereeld by ons winkel nie, maar ons weet hulle is van hier rond.”
Die Groot Drakenstein-polisie het die voorval bevestig en gesê niemand is nog in verband daarmee in hegtenis geneem nie. ’n Saak van besigheidsroof word ondersoek.
Enigeen met inligting wat die polisie kan help met die ondersoek kan konst. Windvogel by 021 874 8000 of 079 894 1741 bel.


