Nathan Jefthas, ’n vleuel van die Franschhoek-rugbyklub, op pad doellyn toe in die wedstryd teen Hamediehs in Groendal. Hy is een van Franschhoek se voorste driedrukkers. Foto: Emile Krotz

Credit: ECK PHOTOGRAPHY

Met nog net ses rugbywed­stryde oor in die ligas van die Westelike Provinsie-rugbyunie skop ligaverplig­tinge Saterdag (22 Junie) in alle erns af.

Die meeste spanne was weens die langnaweek nie die afgelope naweek in aksie nie en sommige, soos die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), wat ná agt wedstryde onoorwonne is, het hierdie naweek loslootjies.

Alle oë is Saterdag op die Superliga B-kragmeting tussen Van der Stel-Evergreens (VDE) en Hands & Heart op die Eikendal-sportterrein in Kraaifontein gerig. VDE lê tans tweede op die punteleer met 33 punte, terwyl Hearts 31 punte het.

UWK is die voorlopers in die liga. Hulle het vroeër die seisoen reeds met H&H afgereken en speel eers Saterdag 5 Augustus teen VDE in Stellenbosch.

Die twee spanne in posisie een en twee in elke liga kwalifiseer outomaties vir die halfeindstryde, terwyl spanne in posisies drie tot ses in kwarteindstryde gewikkel sal wees om te bepaal wie die eerste twee in die halfeindstryde die stryd aansê.

H&H het in hul vriendskap­like wedstryd vroeër die seisoen die onderspit gedelf en sal Saterdag wil bewys dat VDE se oorwinning ’n gelukskoot was en dat hy wel die oorhand het. ’n Bulstryd word verwag en geen genade sal gegee of gevra word nie, want albei klubs is op soek na punte.

Franschhoek, wat al amper vier seisoene sukkel om uit Superliga B te kom, pak Saterdag Vineyards in Paarl. Dalk is 2024 die jaar dat Franschhoek nie weer by die laaste hekkie struikel nie en hy aan die einde na Superliga A bevorder word.

Kylemore het vanjaar gemengde welslae en dalk het die ruskans van twee weke op die regte tyd gekom voordat hy teen Langa uitdraf.

In Superliga C het Pniël Villagers ’n loslootjie nadat hy Gardens Saterdag met 47-37 geklop het.

Pniël Villagers is met 35 punte boaan die punteleer ná agt wedstryde en Macassar is in die tweede plek met 34 punte ná sewe oorwinnings in sewe wedstryde.

In die Suidelike liga pak die Blue Stars van Klapmuts die Titans in ’n wegwedstryd in Grassy Park en is tans derde na ses wedstryde, maar Blue Stars se posisie kan aansienlik verbeter aangesien hy een wedstryd minder as die voorlopers, Young Wesleys, gespeel het.

In die Noordelike liga sal Stellenbosch-Coronations sy twee verloorwedstryde in die doodsnikke teen Windmeul en Delft wil vergeet en fokus om die topnege te haal. Corries reis die naweek na Paarl vir sy wedstryd teen Albions.

Corries se buurman, Raithby Universals (RU), blaas in sy nek en albei is oorgehaal om onder die topdrie te eindig. Raithby het Saterdag 40-8 met Gordonsbaai Pioneers afgereken. RU reis Saterdag na Eersterivier vir sy kragmeting teen Whistling Wheels

Excelsior was veronderstel om teen Blakes te speel en kry die vyf punte nadat Blakes hom aan die kompetisie onttrek het.

You need to be Logged In to leave a comment.