Witwarm stryd in tussenverkiesing

Politieke partye en een onafhanklike kandidaat gaan aanstaande Woensdag (8 Maart) sake in ’n tussenverkiesing uitspook om die leisels in Wyk 21 van die Stellenbosch-munisipaliteit te neem.

Otniel Jooste, die ACDP-kandidaat.

Credit: SYSTEM

Politieke partye en een onafhanklike kandidaat gaan aanstaande Woensdag (8 Maart) sake in ’n tussenverkiesing uitspook om die leisels in Wyk 21 van die Stellenbosch-munisipaliteit te neem.

Dít volg nadat die DA-raadslid Rikus Badenhorst einde verlede jaar as lid van die Wes-Kaapse provinsiale parlement verkies is. Sy bedanking het sy setel in Wyk 21 vakant gelaat.

Die tussenverkiesing sal betwis word deur ’n onafhanklike kandidaat, Dawn van Wyk; Otniel Jooste van die African Christian Democratic Party (ACDP); Nuraan van Gerwel van die African National Congress (ANC); Mynard Slabbert van die Demokratiese Alliansie (DA); Marizaan George van die Economic Freedom Fighters (EFF); en Cyril Hector van die GOOD-party.

Otniel Jooste, die ACDP-kandidaat.

Mynard Slabbert,die DA-kandidaat.

Cyril Hector, GOOD se kandidaat.
Dawn

Dawn van Wyk, ’n onafhanklike kandidaat.

Eikestadnuus het die partye en kandidate gevra hoekom inwoners vir hulle moet stem. Die ANC het die geleentheid van die hand gewys en die EFF het belowe om kommentaar te verskaf, maar teen druktyd het Eikestadnuus nog geen kommentaar ontvang nie.

Van Wyk, die onafhanklike kandidaat, sê: “Ek is al langer as 20 jaar ’n inwoner van Stellenbosch – 15 jaar daarvan in Paradyskloof. Ek glo ek weet wat die behoeftes van die inwoners hier is en ek beloof om my beste te gee om dit oor te dra. As ’n enkel-ma besef ek die lewe is ontsaglik duur en ons almal voel dit. Mense se geldsake en persoonlike lewe het nog nie ná Covid herstel nie en ons betaal baie om in Stellenbosch te woon. Ek dink nie dit is onredelik om die beste diens van ons munisipaliteit te verwag nie. Stellenbosch het ’n rykdom kundiges en moet deur Stellenbossers bestuur word, want ons belange is hier en dit is ons munisipaliteit.

“Ek hou nie van politiek nie en het geen ambisies om parlement toe te gaan of ’n politikus te wees nie. Ek wil ’n stem wees vir my gemeenskap. Ek gaan nie leë beloftes maak nie en ek weet een mens kan nie alles regmaak nie, maar ek sal hard baklei vir regverdigheid en respek teenoor ons gemeenskap.”

Jooste, die ACDP-kandidaat, sê hy is ’n trotse inwoner van Jamestown en die belange van die inwoners is vir hom van kardinale belang. “Met my ondervinding as PR-raadslid in die munisipale openbare rekeningkomitee weet ek presies wat die behoeftes in ons gemeenskappe is en hoe om dit reg te stel. As ’n sakeman sal ek ook aandag toespits op die ontwikkeling van kleinsakeondernemings.”

Hy voeg by: “Een van my grootste bekommernisse is die oorweldigende tempo waarteen gentrifikasie en hoëdigtheidverstedeliking die eens unieke, rustige landelike kenmerke van hierdie pragtige historiese vallei vernietig, waarin baie eiendomseienaars in Jamestown, Aan-de-Weber, Le Clemence en De Zalze belê het. Ek is gekant daarteen om tuingronde se sonering of belasting te verander van landbou na residensieel, teen noodbehuising, teen die absolute wanbestuur van FARM 527 (Mountainview), wat die afgelope ses jaar onder die DA in ’n plakkerskamp verander en die eerste gangsters wat ingetrek het, die feit dat ons munisipale kantore so haglik lyk asook teen die verbrokkeling van ons veilige gemeenskapskultuur en erfenis onder die DA.”

Slabbert, die DA-kandidaat, sê met sy ondervinding as sakeman sal hy die klein en medium sakeondernemings help om wettig te funksioneer en hom ook toespits op gemeenskapsveiligheid in alle gebiede – spesifiek Jamestown.

“Met my ondervinding sal ek die buurtwagte ondersteun en aandring op ’n satellietpolisiekantoor vir Jamestown. Ek glo dienslewering is die hoogste prioriteit vir enige raadslid en daarom sal ek altyd beskikbaar wees om my gemeenskap te dien. Ek sal saam met alle rolspelers werk om die gemeenskap te verbeter en selfs met die vorige raadslid, Rickus Badenhorst, wat nou in die parlement is, saamwerk om grondkwessies ’n prioriteit te maak,” voeg Slabbert by.

Cyril Hector, GOOD se kandidaat, meen hy is die geskikte kandidaat omdat hy in die gemeenskap woon en omdat mense vir verandering moet stem.

“Stem vir ’n skoner en veiliger gemeenskap. Stem vir goeie dienslewering en die beskerming van plaaswerkers se regte. Stem vir gelyke regte en ondersteuning van kleinboere en sakeondernemings,” sê Hector.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.