’n Paar komberse, ’n waentjie en die viervoetige Mission Impossible is al wat grondbesetters oor het nadat hulle verlede week uit hul huisies langs die R44-pad gesit is.
Die paar inwoners leef reeds glo meer as ’n dekade lank langs die besige pad in Stellenbosch, maar is verlede Woensdag (3 April) deur wetstoepassers van die plaaslike munisipaliteit verwyder.
Noland Geduld (55) sê dié aand het hy koud en met een oog wakker tussen Rietenbosch en die R44-pad geslaap. “Ek het gedink netnou kom hier ’n kar hier af van die pad en tot bo-op ons,” vertel hy.
Geduld, Gert Daniels (53) en Charlton Arond (48) was verlede Donderdagmiddag steeds langs die pad, met geen klarigheid oor waarheen hulle volgende sou gaan nie. Dié drie was van die handjievol inwoners wat in informele strukture munisipale grond beset het.
Hulle het in Maart ’n uitsettingsbevel van die Stellenbosch-munisipaliteit ontvang.
Die munisipaliteit het glo aan die inwoners gesê hulle kan na Jamestown trek, waar noodbehuising beskikbaar is. Die inwoners meen egter hul veiligheid is nie in dié gemeenskap, waarmee hulle nie vertroud is nie, verseker nie.
Arond versamel bedags blikkies en ander herwinbare items vir ’n inkomste, en toe hy verlede Woensdag by tuis kom, was sy huisie reeds afgebreek. “My identiteitsdokument is weg. Dit is saam met die ander goed in die huis op die lorrie gesit. Van die ander mense se medikasie is saam met hul besittings weggevat,” vertel hy.
Geduld en Daniels sê hulle is aangejaag en het gegryp wat hulle kon voordat die res op die wetstoepassers se trokkie gelaai is.
John Andrews, ’n raadslid, was onder diegene wat ingespring het om die oorblywende inwoners te help. Kos en komberse is aangedra en Andrews het die inwoners probeer help om met die munisipaliteit te skakel.
Die inwoners meen hulle het rustig in die veld gewoon en het selfs gekeer dat skoolkinders wat die veld as ’n deurloop na die skool gebruik, nie deur skelms beroof word nie.
By navraag het die munisipaliteit gesê slegs een van die gesinne het ’n wendyhuis in Jamestown aanvaar.
“Die mense is verwyder omdat hulle sedert die Covid-19-ramptoestand onwettig op ’n rivieroewer woon. Dit is ’n gevaar vir hulle en ’n bedreiging vir die omgewing,” het Stuart Grobbelaar, ’n munisipale woordvoerder, verduidelik.
“ ’n Hofbevel is aan [die munisipaliteit] toegestaan dat die strukture en mense verwyder moet word. Mense wat nie alternatiewe verblyf kon kry nie, is toerusting aangebied om ’n struktuur op te rig, maar dit is van die hand gewys.”
Grobbelaar het ook gesê al die inwoners se besittings is aan hulle terugbesorg.