Woonhuis in Idasvallei in ligte laaie

Wanneer jou woning in puin gelaat is, is daar nie baie ligpunte nie, maar volgens Annaline Kammies was die silwer randjie die groot ondersteuning wat sy en haar gesin ontvang het.


Wanneer jou woning in puin gelaat is, is daar nie baie ligpunte nie, maar volgens Annaline Kammies was die silwer randjie die groot ondersteuning wat sy en haar gesin ontvang het.

Kammies se woning in Weberstraat, Idasvallei, was Saterdagnag ná vermoe­de­lik ’n kortsluiting in ligte laaie.

“Blom het vir die kind gevra om te gaan kyk wie in die kombuis is, want dit het geklink asof iemand die mikrogolf op die tafel skuif. Deseree het omgedraai en gesê dit brand,” vertel Annaline.

Annaline, haar suster, Rozetta “Blom” Williams, en nog agt familielede woon saam in die huis.

Dit was ná 01:00 toe die Kammies-gesin se huis vlamgevat het.

Deseree (16) vertel toe sy in die kombuis kyk, het sy net rooi gesien. Die tiener het só groot geskrik dat sy na die slaapkamer gehardloop en uit vrees die kombers oor haar kop getrek het. Blom het vir almal in die res van die huis geskree hulle moet uit. Nadat Blom alarm gemaak het, kon almal sonder enige beserings van die erf na die straat beweeg.

“Ek kon nie eens my skoene aankry nie. Ek het my selfoon probeer optel om die brandweer te bel, maar dit het uit my hande gegly. Ek moes diep asem haal en eers myself regruk. Toe trek ek die kombers nader om Monte (2) op te tel en ek het seker gemaak om my handsak te gryp, want die werk se sleutel was daarin,” sê Annaline.

Monte se grootste bekommernis was waar sy ouma Blom was en sy moes haar haas om uit die brandende huis te kom. Eers daarna het die seuntjie bedaar, maar sy ouma het eers seker gemaak die elektrisiteit is af.

Toe die bure bewus raak van die brand, het almal onmiddellik ingespring om te help, met ’n buurman wat hom Saterdagnag na die nabygeleë brandweerstasie gehaas het om die brandweerdienste op die toneel te kry.

Dit wat nie uitgebrand het nie, het sopnat geword soos die brandweerbeamptes die brand probeer blus het. Annaline sê hoewel die brandbestryders vinnig gewerk het om die vlamme te blus, het daar nie veel in die huis oorgebly nie. Klerekaste, die kombuis en alledaagse huisgoed het alles in die slag gebly.

Dit wat oorgebly het, het waterskade, maar Annaline vertel sedert Saterdag het die hulp nie ophou kom nie.

“Die mense was só goed. Ons weet nie eens hoe om dankie te sê nie. Klere vir die kinders is aangedra. Mense het hier opgedaag met grawe en vurke en het Saterdagoggend reeds begin skoonmaak. Toe ek wonder hoe ons vir al die mense wat help gaan kos gee, het potte kos en bottels koeldrank net opgedaag.”

Geldelike donasies is ook geskenk nadat Anneline se suster-kind, Olga Randelhoff, ’n plasing op Facebook geplaas het.

Annaline vertel vriende van Jamestown tot Pniël het kom seker maak die familie is veilig. Een paartjie het gewoeker om weer ’n dak oor die familie se kop te kry en ’n Nutec-huis is Sondag reeds op die erf opgerig. Hoewel afrondingswerk nog kort, sal dié werk die naweek voltooi word, is die Kammies-gesin beloof.

“Ek het hier op die bank gesit en net gekyk hoe meer en meer mense inkom om te help. Die gemeenskap, die kerke, die skole, die burgemeester, politieke partye . . . almal was hier om hand by te sit en help. Hulle het só hard gewerk,” vertel Annaline.

Vir nou slaap die familie in die voorhuis, ’n gedeelte wat Annaline jare terug aangebou het, maar wat nooit ten volle voltooi is nie. Nog ’n familielid slaap tydelik in ’n tent op die erf tot daar weer slaapplek vir almal is. “Nou het ons boumateriaal nodig. Die versekering op die huis het verval, so alles vir die werk sal nou uit die sak moet kom. Ons hoop om alles reg te kry voor die winter werklik begin, maar dit hang ook af van die hulp wat ons ontvang. Hierdie is ’n moeilike stryd, maar danksy die genade van die Here sal ons dit deur alles maak.”

Annaline meen die hulp van die gemeenskap is bewys van die genade. Die familie wil niemand uitsonder nie en bedank een en elkeen wat hulle bygestaan het.

  • Om ondersteuning te bied, kontak Annaline by 078 378 8962.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.