Woorde Open Wêrelde vir 300 leerders van 129 skole

Meer as 300 leerders van 129 skole reg oor Suid-Afrika gaan Saterdag op Stellenbosch toesak vir die eindronde van die jaarlikse Sanlam-Woorde Open Wêrelde-spelfees.


Meer as 300 leerders van 129 skole reg oor Suid-Afrika gaan Saterdag op Stellenbosch toesak vir die eindronde van die jaarlikse Sanlam-Woorde Open Wêrelde-spelfees.

Die WOW-spelfees is ’n taalbemagtigingsprojek van die Universiteit Stellenbosch wat daarop fokus om ’n liefde vir lees en woorde by leerders te kweek.

Tatum Ferrier van Idasvallei Primêr en Naytano Adonis van Stellenzicht Sekondêr gaan Saterdag aan die kompetisie deelneem.

Saartjie Botha, direkteur van die Woordfees en die WOW-projek, sê die eindronde is die hoogtepunt van ’n jaar se harde werk. “Ons doel met die kompetisie is om leerders weer opgewonde te maak oor hul taal – en oor woorde. By WOW en by die Woordfees draai alles wat ons doen om woorde – lees, skryf, sang, toneel. Ons wil graag dié passie ook by ’n nuwe geslag laat vlamvat,” luidens ’n verklaring.

Fiona van Kerwel, die WOW- projekbestuurder en haar span, deurkruis jaarliks die land om toe te sien dat die verskillende rondes van die kompetisie – van skoolvlak, dan kring-, distriks- en provinsiale vlak – foutloos en glad verloop. “Ons maak staat op ’n hele klomp onderwysers en ouers wat ons vrywillig help om die projek verder uit te bou. Die potensiaal van ons leerders én hul ouers en onderwysers is ongelooflik en gee ’n mens oneindig baie hoop,” sê Kerwel.

Volgens Kerwel bevoordeel die kompetisie leerders op verskeie maniere. “Goeie spelling verbeter jou punte op skool en met goeie punte kan jy uiteindelik ’n Matie word. Deelnemers se selfvertroue verbeter daarmee saam en hul selfbeeld word versterk deurdat hulle leer om voor ’n hele gehoor te spel.”

WOW ondersteun meertaligheid en vanjaar neem 112 leerders uit vier provinsies aan die Sanlam WOW- Nasionale Spelfees vir Engels eerste addisionele taal deel. WOW bied sedert 2017 ook ’n Xhosa-spelfees in vier distrikte aan en beplan om hierdie aanbod verder uit te brei.

Die nasionale eindronde van die Sanlam WOW-spelfees word by die Universiteit Stellenbosch aangebied en die kompetisie begin 10:00. Die prysuitdeling word 15:00 in die HB Thom Teater (binnekort die Adam Small Teater) gehou. Sien asseblief die volledige program onder.


. Vir meer inligting kontak Danie Marais by die Woordfees-kantoor by danie_marais@sun.ac.za of 021 886 5036.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.