Keith Jacobs, ’n geliefde inwoner van Klapmuts en werknemer by die BP-vulstasie in dié dorp, is die afgelope naweek in ’n tragiese voorval doodgesteek.

Volgens Jean Jacobs, ’n familielid van Keith, het die voorval Saterdagoggend (15 Februarie) kort ná middernag in Mosesstraat naby die Sewendelaan-taverne plaasgevind.

Jacobs het gesê kort hierna het ’n vriend van Keith homself by die Klapmuts-polisiekantoor oorgegee, waarna hy in hegtenis geneem is vir die moord op Keith.

Na wat verneem word het ’n woordewisseling tussen Keith en sy vriend ontstaan, wat daartoe gelei het dat Keith verskeie kere met ’n mes in die bolyf gesteek is. Hy is op die toneel deur paramedici dood verklaar.

“Hy het in die arms van ’n ander vriend gesterf,” het Jacobs gesê.

Jacobs het verder verduidelik dat Keith en sy vriend reeds vir ’n ruk lank in ’n struweling betrokke was. Volgens haar is die Jacobs-familie “gebroke” oor die voorval omdat die twee vriende saam grootgeword het.

“Ons [die Jacobs-familie] sal Keith onthou as ’n grapperige mens, vol lewe, en ’n absolute mense-mens,” het Jacobs gesê.

Medelye het ná sy dood op ’n Klapmuts-gemeenskapsgroep op Facebook ingestroom met veral klante van die BP-vulstasie wat kommentaar gelewer het oor hoe “behulpsaam” en “vriendelik” hy altyd was.

Keith het ongeveer drie jaar by die vulstasie gewerk.

Hy laat sy vriendin en vier kinders agter, waarvan die jongste kind vyf maande oud is.

Die Klapmuts-polisie het nog nie kommentaar oor die voorval gelewer nie.

You need to be Logged In to leave a comment.