Gholf en die kunste vat hande vir ’n goeie doel by vanjaar se Toyota US Woordfees-gholfdag, wat Dinsdag 10 Oktober by die Devonvale-gholfklub gehou word.
Kranige gholfspelers word genooi om by sportpersoonlikhede asook bekende skrywers en kunstenaars aan te sluit om geld vir die werwing, ontwikkeling en behoud van talentvolle spelers én die voorsiening van werk- en ontwikkelingsgeleenthede vir kunstenaars in te samel.
Die bekende TV-aanbieder en akteur De Klerk Oelofse sal die seremoniemeester vir die dag wees. Hy speel saam gholf en lei die lekker ontspanne gesprekke tussen die rugbyhelde en van die voorste kunstenaars.
’n Paar unieke sportgedenkwaardighede asook kunswerke en wegbreeknaweke sal tydens die prysuitdeling-ete opgeveil word. Geld wat ingesamel word, sal tussen die Cheetahs-rugbytrust vir die werwing, ontwikkeling en behoud van talentvolle spelers en die Toyota US Woordfees vir werkskepping en produksie-ontwikkeling in die kunste verdeel word.
Skryf aanlyn in vir die gholfdag by www.woordfees.co.za of Quicket. Almal wat inskryf, moet hul afslaantyd uit die moontlike opsies kies en hul betalings elektronies doen.
Vir enige navrae kontak Leoné Pitts by leone.pitts@gmail.com of 083 227 7501.