’n Hoogtepunt by vanjaar se Toyota US Woordfees is beslis Petronel Baard se produksie “’n Blom in Elke Vrou” en as jy nog nie kaartjies daarvoor bespreek het nie, moet jy vinnig spring.
Petronel tree op Sondag 8 en Maandag 9 Oktober by die Drostdy-teater in Stellenbosch saam met haar orkes en ‘n ensemble van die Suid-Kaap Kinderkoor, onder leiding van Jan-Erik Swart, op.
Die produksie deel met oorspronklike musiek en woordkuns onder meer die woordkuns van die jong skrywer-digter, Mardene Marais, wat as ‘n RAU-student (nou UJ) oorlede is. Ter nagedagtenis is Cordis Trust aanvanklik as die Mardene Marais-gedenkfonds gestig. Oor die afgelope 23 jaar het dié trust verskeie skrywers, sangers, ander kreatiewes, projekte wat ‘n boodskap van hoop dra, en talle deernis-projekte, ondersteun.
“’n Blom in Elke Vrou” is ook ‘n ligte klassieke musikale en digterlike reis deur die vier seisoene met verwysings na plantegroei en plantname, inheems en seisoenaal aan Suid-Afrika. Die bekende tuinboukundige, Ernst van Jaarsveldt van Babylonstoren, het groot insae gegee en Madine Swart se pragtige boek “Flora se Geheime Taal” inspireer in die digterlike teks.
Petronel beskryf Mardene se skrywerk se invloed só: “Uit haar suiwer hart vloei kristalhelder geskrifte wat in trefkrag bly staan. In tragiese verplanting het sy soos ’n spreekwoordelike saadjie in die grond geval en gesterf, om weer te kan ontkiem in suiwer inspirasie vir so baie mense, lank na haar dood. Dit is die grootste liefde wat daar is, die grootste erfenis ook”.
“Die teks is ook vervleg met my eie stories, seisoene en musiek sover terug soos my studentejare wat nog nooit vir produksies gebruik is nie.”
Cordis Trust is trots op sy hoofborgskap van Petronel se produksie. “Dis ’n produksie wat daarop fokus om hoop te bring in ’n tyd waarin mense dit werklik nodig het,” sê dr. Fanie Marais, uitvoerende trustee van die Cordis Trust. Die trust was ook die hoofborg van die produksie se baie suksesvolle vertoning tydens vanjaar se KKNK.
Hou Cordis Trust se sosiale media dop vir gereelde inligting oor dié vlagskip-produksie in een van Stellenbosch se ikoniese venues.
Koop nou jou kaartjies aanlyn op Quicket by https://bit.ly/blomvrou
Vir die vertoning by die Toyota US Woordfees op 8 en 9 Oktober sal die eerste 15 besprekings per dag pragboeke wen, “Flora se Geheime Taal” van Madine Swart of Karen De Wet Afrikaans se saamgestelde digbundel, “Vers en Vrou”.
Bespreek deur Quicket en stuur jou skakel na die.lang.vrou@gmail.com.