Die winter bied unieke uitdagings vir bloedinsameling – seisoenale siektes soos verkoues en griep, minder skenkingsklinieke as gevolg van skoolvakansies, en minder mense wat in die kouer weer uitgaan.
Dié faktore lei dikwels tot min bloedvoorraad wanneer die behoefte net so kritiek is. In die lig hiervan begin die Wes-Kaapse bloeddiens (WKBS) sy jaarlikse winterveldtog met die inspirerende tema “Helde”.
Namate die koue weer intree en die skoolvakansie naderkom, doen die WKBS ‘n beroep op die publiek om die geleentheid aan te gryp en helde te wees deur bloed te skenk, want helde dra nie almal kappe nie – sommige rol eenvoudig hul moue op.
Vanjaar se winterveldtog begin met die boodskap: “Tree aan om ‘n held te wees.”
“Die WKBS hoop om ‘n gevoel van gemeensaamheid en deernis aan te wakker deur individue aan te moedig om na vore te tree en te help om in die voortdurende vraag na bloed te voorsien – veral gedurende die uitdagende wintermaande,” sê Marike Carli van die WKBS.
Om toegewyde skenkers te bedank, sal die bloeddiens elke maand van Mei tot Augustus ‘n paar “heldesokkies” in beperkte hoveelhede weggee – ‘n hartlike teken van waardering vir die warm en lewendige houding van ander met elke lewensreddende skenking.
As jy tussen 16 en 75 jaar oud is, 50 kg of meer weeg en in goeie algemene gesondheid verkeer en ‘n veilige seksuele leefstyl handhaaf, kan jy ‘n held wees en bloed skenk.
Die proses is veilig, neem slegs 30 minute en jou liggaam vul die 475 ml geskenkte bloed binne 24 uur aan.
Skenkers word aangemoedig om ‘n goeie maaltyd drie tot vier uur voor skenking te eet en voor en ná die skenking goed gehidreer te bly.
• Besoek www.wcbs.org.za of stuur ‘n WhatsApp-boodskap na 060 549 7244 vir nog inligting.