Droom jy van toneelspel op ’n groot verhoog, op televisie of in ’n Hollywood-rolprent, of om agter ’n mikrofoon te skitter? Gee die eerste tree op jou roemryke loopbaan en skryf nou vir die Proscenium-dramakompetisie in!

Dit beloof om die ervaring van ’n leeftyd te wees: Ontmoet jou sepiehelde op die stel van Suidooster; skuif agter ’n mikrofoon in by RSG en hoor jou eie stem in ’n oorsese akteur se mond op ’n TV-skerm in die oorklankingsateljee.

Die sluitingsdatum is Vrydag (26 Januarie).

Jou talent, tegniese vermoëns en passie is al wat tel. Jy neem individueel deel en almal van gr. 8 tot gr. 12 kan inskryf. Sprekers van alle amptelike tale is welkom om in te skryf.

Vir die uitdunronde moet deelnemers ’n gedig en ’n uittreksel uit ’n prosawerk van hul keuse voorberei. Hulle moet dan ’n kort improvisasie doen oor ’n onderwerp wat deur die beoordelaar gegee word. Sestig deelnemers sal na die volgende ronde deurdring.

In dié ronde moet deelnemers ’n uittreksel of monoloog uit ’n toneelstuk, wat nie langer as vyf minute duur nie, voorlê. Die beoordelaars wys 30 deelnemers aan wat deurgaan na die volgende ronde, waar hulle jou gedig en uittreksel uit ’n prosawerk moet opvoer.

Die 16 deelnemers wat na die volgende ronde deurdring, sal radio-oudisies by die RSG-ateljee in Seepunt moet ondergaan, die oorklankingsoudisie by Overklank Ateljees doen en in ’n toneel op die stel van kykNET se sepie, Suidooster, speel. Ná hierdie ronde sal die beoordelaars agt deelnemers vir die eindronde aanwys.

Daarvoor voer die finaliste ’n goed gebalanseerde program van nie langer as 12 minute op, met die klem op verskeidenheid en wisseling in aanbieding. Die program kan ’n sentrale tema hê en deelnemers mag gebruik maak van poësie, prosa, drama, sang, mimiek en kommentaar (skakelteks), indien nodig. Items uit vorige rondes mag ook gebruik word.

Indien deelnemers raad en leiding nodig het met die keuse van hul materiaal of voorbereiding, sal professionele mentors gereed staan om hulle te ondersteun.

Die uitdunrondes begin einde Februarie in al nege provinsies, waarna die eindronde van Donderdag 9 tot Saterdag 11 Mei in die Kunstekaap plaasvind.

Sertifikate, medaljes en geldpryse is op die spel, en RSG en kykNET kies uitblinkers uit die finaliste om in ’n radiodrama te speel en ’n gasverskyning in ’n TV sepie te maak. Overklank Ateljees gaan ook ’n belowende finalis nooi om aan ’n oorklankingsprojek deel te neem.

Boonop kan finaliste wat in gr. 12 is, aansoek doen vir ’n WOW-studiebeurs aan die Universiteit Stellenbosch, en ’n beurs vir studie aan Northlink Kollege is ook beskikbaar.

Inskrywings kan aanlyn by www.proscenium.pro gedoen word. Inskrywingsfooie beloop R200. Stuur alle navrae per e-pos na [email protected].

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article