Die vroue wat die bekendstelling van Women of Worth, oftewel WOW, bygewoon het, is (agter van links): Anne-May Hopkins, Elizabeth Gordon, Daphne Sales, Sunet Robbertse, Olivia van Rooyen, Alida Potgieter en Heleen Stofberg. Voor: Peggie Damonse, Chriselene Davids, Sarie Martins, Petro Filips, Irna Snell en Margaret Thys.Foto:


Women of Worth (WOW), ’n organisasie sonder winsbejag, is verlede maand amptelik by 401 Rozendal in Stellenbosch van stapel gestuur.

WOW stel hom ten doel om vroue van plaaslike gemeenskappe met vaardighede te bemagtig, wat hulle in hul eie gemeenskappe kan gebruik.

Die inisiatief is deur Alida Potgieter, Olivia van Rooyen, Sunet Robbertse en Heleen Stofberg begin.

Elk van die vroue by die organisasie se bekendstelling teenwoordig het ’n geskenkpak met die komplimente van die WOW-organiseerders ontvang.

Tydens die bekendstelling is agt vroue geleer hoe om geurige samoesas te maak. Daarna is hulle elk ook met die basiese benodigdhede en bestanddele toegerus wat hulle tuis kan gaan gebruik – ook om hul nuwe vaardigheid aan ander oor te dra. Hierdie nuwe vaardigheid kan nie net as ’n bron van inkomste dien nie, maar ook as bron van selftrots.

Peggy Damonse, Petro Filips, Chriselene Davids, Elizabeth Gordon en Sunet Robbertse leer hoe om samoosas te vou.Foto:

Die fokus het ook op vrouegesondheid geval en dr. Bielqees Salie het ’n insiggewende, dog informele praatjie oor borskanker en die vroeë waarskuwingstekens waarop vroue bedag moet wees, gelewer.

Die vroue is hierna die vaardigheid van joernaalinskrywing geleer. Om jou denke en gevoelens skriftelik te verwoord of te skets, bied ’n waardevolle uitlaatklep om alledaagse stres en angstigheid die hoof te bied.

Die byeenkoms is afgesluit met ’n spesiale bederf van manikure en ’n kans om hul klerekas aan te vul uit ’n reeks tweedehandse klere en bykomstighede wat deur plaaslike skenkers geskenk is.

Irna Snell, Petro Filips en Olivia van Rooyen by die klere wat deur plaaslike donateurs vir die geleentheid geskenk is.Foto:

Ná ’n laaste koffie en iets soet het ’n wedersydse vervullende dag tot ’n einde gekom.

Die gaste het van oor tot oor geglimlag en kon nie uitgepraat raak oor die wyse waarop hulle bederf is nie. Met ’n gesonde inspuiting vir hul selfvertroue was elkeen oorgehaal om terug te gaan na hul onderskeie gemeenskappe en ook daar ’n verskil te gaan maak.

  • Kontak Potgieter by 082 518 9896 of apleerondersteuning@gmail.com vir navrae of om ’n bydrae te lewer.

You need to be Logged In to leave a comment.