Die Wow-inisiatief wat deur Alida Potgieter, Olivia van Rooyen en Sunet Robbertse van stapel gestuur is, het onlangs 10 vroue na ’n dag van bederf en bemagtiging genooi.


Vroue en hul waarde is vandeesmaand by die Wow (Women of Worth)- liefdadigheidsgeselligheid gevier.

Die Wow-groep het Saterdag 12 Oktober hul derde liefdadigheidsgeselligheid by Die Khaya by die Kruiskerk in Stellenbosch aangebied.

Wow stel haar ten doel om vroue wat ondersteunende rolle in die plaaslike gemeenskap vervul, te bemagtig met vaardighede wat hulle op hul beurt weer in hul eie gemeenskappe kan gebruik. Elk van die vroue het met die intrapslag ’n geskenkpak danksy die Wow-organiseerders ontvang.

By hierdie geleentheid is 10 vroue uitgenooi en ná ’n gepaste opening en inleiding tot die dag oor die belangrikheid van vroue se rol in die samelewing, is die gaste ook gemaan om nie hulself af te skeep nie. Dit was die boodskap van die opvoedkundige sielkundige Maryke Duvenhage, wat met die vroue oor hul emosionele welstand gesels het.

Dr. Renscha van den Berg het gefokus op borskanker en die vroeë waarskuwingstekens waarop vroue bedag moet wees.

Bonita September het die vroue die basiese vaardighede van gel-manikuur-en-pedikuur geleer. Hulle het elkeen hulle eie naelmasjientjies en ’n beginner-stel ontvang.

Daarby het Morné Potgieter, ’n finansiële beplanner, die vroue ’n paar sake-beginsels geleer om dit makliker te maak om ’n inkomste te verdien.

Met ’n gesonde inspuiting vir hul selfvertroue was die vroue oorgehaal om huis toe te gaan en ook daar ’n verskil te maak.

Wow is ’n inisiatief wat deur Alida Potgieter, Olivia van Rooyen en Sunet Robbertse begin is. Hulle bedank almal wat agter die skerms gehelp het met die geldinsamelings en reëlings vir die dag.

  • Stuur ’n e-pos-boodskap na wowliefdadigheid@gmail.com met enige navrae.

You need to be Logged In to leave a comment.