Die organisasie Women of Worth (WOW) het Saterdag 6 April haar tweede liefdadigheidsaamtrek by die Khaya van die Kruiskerk in Ryneveldstraat, Stellenbosch, aangebied.
WOW stel haar ten doel om vroue wat ondersteunende rolle in plaaslike gemeenskappe vervul, met vaardighede te bemagtig. Die inisiatief is deur Alida Potgieter, Olivia van Rooyen en Sunet Robbertse van stapel gestuur.
Agt vroue is as gaste vir die dag uitgenooi. Die opvoedkundige sielkundige Zelda Pollard het met die vroue oor emosionele welstand gesels. Dit het tot wedersydse en interaktiewe gesprekke gelei.
Daar is ook gefokus op vroue-gesondheid en dr. Renscha van den Berg het ’n insiggewende praatjie gelewer oor borskanker en die vroeë waarskuwingstekens waarop vroue bedag moet wees, asook hoe om ’n gesonde lewenstyl te handhaaf.
Hierna is vroue die basiese vaardighede om met ’n naaimasjien te werk, geleer en elkeen het teelappies gemaak. Elke gas het ook ’n naaimasjien, lap en basiese toerusting om naaldwerk tuis te doen, ontvang.
“Hierdie nuwe vaardigheid kan nie net as bron van inkomste dien nie, maar ook as bron van selftrots,” sê Potgieter.
Die samesyn is afgerond met ’n spesiale bederfsessie – ’n manikuur en die geleentheid vir gaste om hul klerekas aan te vul met tweedehandse klere en bykomstighede van plaaslike skenkers.
Ná iets te eet het ’n wedersydse vervullende dag tot ’n einde gekom. “Die dag sou nie moontlik kon wees sonder die ondersteuning van die gemeenskap en almal wat agter die skerms gehelp het met die geldinsamelings en alle reëlings nie. Ons waardeer julle hulp opreg.”
- Kontak Potgieter by 082 518 9896, apleerondersteuning@gmail.com of wowliefdadigheid@gmail.com vir navrae en bydraes.