Inskrywings vir die nasionale Sanlam-WOW-spelfees sluit môre (Vrydag 31 Mei).

Die kompetisie is deel van die US Woordfees se Woorde open Wêrelde-bemagtigingsprojek (WOW), wat vanjaar sy “mondigwording” vier.

Die spelfees verbreed sedert 2003 reeds leerders en onderwysers se horisonne deur kreatiewe programme gerig op taal, letterkunde en die kunste in skole en gemeenskappe aan te bied.

Die kompetisie word in al nege provinsies vir skole en individuele leerders in elke uithoek van die land aangebied.

Registrasie en deelname is gratis en leerders van enige taalvlak in Afrikaans, Engels en Xhosa word genooi om in die taalafdelings deel te neem: Afrikaans gr. 1-10; Engels gr. 5-9; en Xhosa gr. 6-8.

Inskrywingsvorms, spellyste en aanlyn speltoetse asook ander bronne kan aanlyn by wow.woordfees.co.za afgelaai word.

Die nasionale eindronde vind Saterdag 28 September by die Universiteit Stellenbosch (US) plaas.

Die spelfees bied leerders in ’n vroeë stadium blootstelling aan die US en die geleenthede wat dié instansie bied, voornemende studente kry die inligting wat hulle benodig vir tersiêre studie, en talentvolle kandidate word bemagtig met WOW-studiebeurse van die US.

WOW bied ook jaarliks ’n program by die Toyota US Woordfees aan ter viering van die verruimende waarde van die geskrewe en gesproke woord in al sy gedaantes.

Fiona van Kerwel, die projekbestuurder van WOW, sê die aanmoediging van prestasie en die verering van uitnemendheid is ’n kerndoelwit en -prioriteit van dié bemagtigingsprojek.

“As ons nie seker maak dat ons kinders ’n goeie grondslag het van woordeskat, woordbegrip en woordgebruik nie, gaan ons hulle ’n onreg aandoen,” sê Van Kerwel.

“Die spelfees is ’n veeltalige platform waar leerders op ’n prettige en opvoedkundige wyse met woorde omgaan om ’n beter begrip van taal te hê en uiteindelik beter te kan kommunikeer – op álle vlakke: wanneer hulle moet luister, wanneer hulle moet praat en óók wanneer hulle moet skryf. Wanneer ons dus sê ons wil spel-spel speel, help ons leerders om kommunikasie op ’n verstaanbare, kreatiewe en selfs op kritiese wyse te laat oorkom.

“Behalwe dit, deurdat die leerder opstaan om die woord hardop te spel of uit te klank, bou ons aan hul selfvertroue en help ons hulle om die vrymoedigheid te hê om hulself uit te druk in ’n taal waarin hulle gemaklik is.

“Terselfdertyd help dit onderwysers geweldig, want daar is aanlyn toetse wat hulle kan gebruik om leerders besig te hou en saam met hulle die woorde te oefen. En ons werk met woorde wat uit die kurrikulum van die betrokke grade kom.”

You need to be Logged In to leave a comment.