Die eerste oesberamings deur Suid-Afrikaanse wingerdboukundiges en produsentekelders vir die 2025-wyndruifoes toon ’n verbetering teenoor die vorige jaar se rekordlae opbrengs.
Vroeë vooruitskattings dui op ’n verwagte oes wat waarskynlik strook met 2023 se oes van 1 183 miljoen ton – die tweede kleinste oes van die afgelope twee dekades.
Dr. Etienne Terblanche, hoof van Vinpro se konsultasiedienste, skryf die verbeterde vooruitsig toe aan gematigde weerstoestande en minimale ontwrigting deur uiterse weersverskynsels. “Die groeiseisoen het gebaat by gunstige winterreën en ’n gematigde lente, wat eenvormige bot en gesonde wingerdgroei ondersteun het,” verduidelik hy.
“Hoewel die nasionale wingerdstand steeds krimp, dui die huidige toestande en produsenteveerkragtigheid op ’n hoëgehalte-oes vir sleutelkultivars.”
Die 2024 na-oesperiode is gekenmerk deur warm, droë en winderige toestande, wat ’n ideale omgewing geskep het vir gesonde wingerdlowers. Ten spyte van uitdagings soos windskade langs die kus en ’n vertraagde herstel weens ondergemiddelde vroeë winterreën, het ’n rekord hoeveelheid reën in Julie besproeiingsreserwes aangevul en voldoende watervoorraad vir die groeiseisoen verseker.
“Die swaar winterreën het waterbeskikbaarheid verbeter, maar het teen ’n prys gekom, veral in skade aan infrastruktuur deur oorstroming langs rivieroewers,” sê Terblanche. “Afgesien van enkele kultivarspesifieke uitdagings met betrekking tot min vroeë winterkoue, het die meeste wingerde sterk groei by die ingang van die seisoen getoon.”
Die groeiseisoen het 10 dae later as verlede jaar begin, maar gematigde toestande en oordeelkundige bestuurspraktyke het gehelp om rypskade en wydverspreide oorstromings soos in 2024 te vermy. Terwyl vroeë kultivars soos chardonnay en pinotage beduidende verbetering toon, dui middel-seisoen kultivars, insluitend chenin blanc en shiraz, meer wisselvallige trosgetalle. Laat-seisoen kultivars, veral colombar en cabernet sauvignon, toon egter op hierdie stadium sterk belofte.
“Die toestande gedurende die volgende twee tot drie maande sal belangrik wees,” sê Terblanche. “Faktore wat korrelgrootte en druifgehalte beïnvloed sal ’n deurslaggewende rol speel in die bepaling van die oes se potensiaal. Produsente is positief, maar voortgesette fyn monitering en aanpassing sal deurslaggewend wees om die volle potensiaal van hierdie oes te verwesenlik.”
Rico Basson, bestuurshoof van South Africa Wine, voeg by: “Die bedryf se aanpasbaarheid en die afwesigheid van uiterste weer-ontwrigting hierdie seisoen het ’n positiewe vooruitsig geskep. Voorraadvlakke in die bedryf is in ewewig en in pas met die vraag van globale en plaaslike markte. Indien die huidige toestande volhou, is SA gereed om ’n oes van beide kwantiteit en kwaliteit te lewer, wat ons posisie as ’n globale wynleier sal verstewig.”
Die 2025-oesberaming, saamgestel deur Vinpro in samewerking met SAWIS, sal voortdurend hersien word soos die seisoen vorder. Die volgende beraming, wat beoog word vir Januarie, sal meer insigte bied in ’n jaar wat beloof om deurslaggewend vir die SA-wynbedryf te wees.