Henry Prins, munisipale bestuurder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), is Woensdag (16 April) op ‘n geslote raadsvergadering tydelik geskors hangende die uitkoms van ‘n ondersoek en moontlike tugverhoor.
Sy skorsing hou glo verband met bewerings dat Prins en sy uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste, Piet Williams, glo aangedring het op ‘n salarisverhoging en die raad van mening is dat die regte administratiewe prosesse vir só verhoging nie gevolg was nie.
Daar word ook beweer dat Prins die uitreiking van ‘n tender vir die instandhouding van ‘n streekstortingsterrein in Worcester glo stop gesit het, ondanks die bevindinge van ‘n munisipale finansiële oorsigkomitee dat die tender wel aan al die verkrygingsprosesse voldoen het.

Die KWDM het Donderdag Prins se tydelike skorsing by navraag bevestig en gesê Wilhelm Markus, die uitvoerende direkteur vir gemeenskapsdienste by die Weskus-distriksmunisipaliteit, neem nou as munisipale bestuurder waar.
“Alle munisipale dienste funksioneer normaal en die ondersoek duur voort.
Geen kommentaar met betrekking tot die ondersoek en raadsbesluite mag tans gelewer word nie.
“Die KWDM bly verbind tot deursigtigheid, goeie regering en ononderbroke diens aan sy gemeenskappe,” het die distrik in sy terugvoering gesê.
‘n Distriksraadslid wat op Woensdag se geslote vergadering was, het op voorwaarde van anonimiteit gesê die raad het aan dr. Elna von Schlicht, die uitvoerende burgemeester, “die mandaat gegee” om namens Prins en Williams met die provinsie vir die salarisverhogings te onderhandel.
“Daar was ander senior amptenare wat meer as die munisipale bestuurder verdien het, dus het die raad nie fout daarmee gesien om hierdie wanbalans in die salarisskaal uit te skryk nie.
“In die geval van munisipale bestuurder het die provinsie die verhoging en betalings goedgekeur, op voorwaarde dat Prins se nuwe lone aan die salarisskaal van sy huidige termyn voldoen.
“Prins is egter toe ook betaal op grond van die 2017-2022- salarisskaal en die burgemeester het toe na die raad gekom vir hierdie betalings om goedgekeur te word – nadat die geld reeds betaal is en sy daarvoor geteken het. Sy [die burgemeester] het geensins omsigtigheid toegepas nie.
“Die munisipale bestuurder se verhogings moes aan die salarisskaal van sy huidige termyn voldoen. Sy het glo eers later besef dat die betalings teen die beslissing gegaan het wat deur die provinsie gemaak is,” het die raadslid Donderdag vertel.
Ingevolge die Wet op Munisipale Stelsels is ‘n munisipale bestuurder se termyn vyf jaar.
‘n Munisipale raad mag egter aansoek doen vir sy munisipale bestuurder om nog ‘n termyn te dien, wat die geval was met Prins.
Hy dien dan sy tweede termyn dat die raad in 2022 aansoek gedoen het vir ‘n verlenging.
Volgens die raadslid het Prins en Williams glo ingevolge die “dubbele salarisskaal” elk ‘n selfoon-toelaag van R12 000 per maand ontvang.
“Ander senior amptenare kry gewoonlik R3 000 op die meeste in selfoon-toelae. R12 000 is letterlik die volle salaris van sommige werkers.
“Die burgemeester staan nou uit die water uit en hou vol dat sy en haar adjunkburgemeester (wie namens die raad met provinsie onderhandel) nie bewus was van hierdie teenstrydighede nie.
“Volgens haar het sy die munisipale bestuurder vertrou en dus bloot die dokumente geteken sonder om dit deeglik te bestudeer.”
Die raadslid het nie uitgewei oor met presies hoeveel Prins en Williams se salarisse verhoog was nie.

Wat die tender vir die instandhouding van ‘n streekstortingsterrein in Worcester aanbetref, het die raadslid vertel dat Prins glo drie weke na die uitreiking daarvan dit teruggetrek het.
“Hy het die tender gestop ten spyte van die feit dat die diensverskaffer reeds aangestel is. Die munisipale finansiële oorsigkomitee het ook bevind dat die tender aan alle munisipale verkrygingsprosesse voldoen het.
“Volgens hom was moes hy die tender goedkeur aangesien dit R10 miljoen oorskry. Die diensverskaffer is toe skriflik ingelig en dit is aan hulle as ‘n administratiewe fout beskryf.
“Die distriksmunisipaliteit is intussen hof toe gesleep oor hierdie einste tender,” het die raadslid beweer.
Donovan Joubert, die raad se Speaker, het Woensdag (16 April) by navraag gesê die items wat op geslote raadsvergaderings dien, word altyd vertroulik hanteer.
“Hoewel hierdie sake in die stadium vertroulik bly, kan ons inwoners en belanghebbendes verseker dat dit met deernis, integriteit en die handhawing van die voorgestelde prosesse hanteer word,” het Joubert gesê.
You must be logged in to post a comment.