Die Kaapse Wynland-netbalspan se spelers het hulle die afgelope week by die jaarlikse netbal-kampioenskap by die Hoërskool Rustenburg in Noord-Wes goed van hul taak gekwyt voordat die span in die halfeindstryd deur Johannesburg A uitgeskakel is.
Johannesburg A is die houer van die titel en altesame 1 800 netbalspelers van oor land heen het aan die o.21-toernooi saam met die senior spanne deelgeneem. Die Wes-Kaap was goed verteenwoordig met die WP en Weskus wat ook spanne gestuur het.
Volgens Nicolene Martin, die afrigter van die Kaapse Wynland-span, was die toernooi mededingend en sy het geweet haar talentvolle jong span sal goeie rekenskap van hulself gee.
“Winelands is ’n groep jong spelers wat moet fyn dopgehou moet word; ek het geweet hulle gaan ’n puik vertoning lewer. Ons pronk wel met twee spelers wat later vanjaar aan die Fast 5-toernooi in Nieu-Seeland gaan deelneem, en ek kan nie wag om te sien hoe Shannen Bartlett en Sian Moore op internasionale vlak rekenskap van hulself gaan gee nie,” het Martin gesê.
Met die Wêreldbekertoernooi wat in Julie en Augustus in Kaapstad gehou is, is die span se voorbereiding vir die toernooi in Rustenburg ’n bietjie in die wiele gery. Noodplanne moes ingestel word om voor te berei, maar dit was die eerste keer dat Suid-Afrika dié toernooi aangebied het, dus was dit ’n geskiedkundige gebeurtenis.
“Ons het die toernooi aangepak met die hoop om mekaar te ondersteun, goed as ’n span saam te werk en ons spelers te ontwikkel om die beste in die land te wees.
“Dit is my tweede jaar as afrigter van Kaapse Wynlande A-span, en iets wat my as afrigter opgewonde maak, is die talent wat ons in die streek het. Die Kaapse Wynlande sluit in Paarl, Wellington, Stellenbosch, Witzenberg, Hermon, Robertson, Worcester, De Doorns en omliggende gebiede,” sê Martin.
Die president van Netbal Suid-Afrika, Cecilia Molokwane, het by die bekendstelling van die toernooi gesê die toernooi is gewoonlik die plek waar die room van Suid-Afrikaanse netbalspelers in aksie is en waar talent vir die SA o.23-span uitgeken word.
Van die wedstryde is regstreeks uitgesaai en die Bolanders kon hul span op die kassie volg.