Die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM) het verlede Donderdag (10 Augustus) tydens ’n geleentheid by Hoërskool Montana in Worcester aangekondig dat dié munisipaliteit jaarliks een leerder in elk van die distrik se meer as 70 skole met studiegeld van R20 000 sal toerus.
Volgens Elna von Schlicht, burgemeester van KWDM, sal die “burgemeester-studiehulpfonds” aan elke skool se top-matrikulant gaan en sal dit ’n eenmalige bedrag wees.
“Elke ontvanger sal ’n noemenswaardige studiehulptoelaag van R20 000 ontvang, wat direk aan hul onderskeie instellings of kursusse toegeken word,” het Von Schlicht gesê.
Die KWDM se toppresteerders-toekenningseremonie staan ??as bewys van die merkwaardige prestasies van die hoogs presterende matrikulant by alle hoërskole in die distrik, en die studiehulpprogram is ’n uitbreiding van dié bestaande toppresteerdersprojek.
“Terwyl ’n paar fyner punte nog oorweeg word, is ek verheug om te deel dat hierdie finansiering vanaf Januarie 2024 toeganklik sal wees vir ons 2023-toppresteerders,” sê Von Schlicht.
Die burgemeester-studiehulpfonds het positiewe terugvoering van skoolhoofde gekry. Verskeie skoolhoofde verduidelik dat beperkte hulpbronne soms ’n presterende student se drome om tersiêre studies voor te sit kan verhinder.
Hierdie fonds bied ’n inspirerende oplossing en bied ondersteuning tydens die oorgang van registrasie na die aanvang van ander beurse, het Von Shlicht gesê.