Ná ’n nat winter is die Boland se somer amper weer ten volle aan die gang, wat beteken die moontlikheid van veldbrande verhoog ook.
Volgens Anesca Roodt, ’n woordvoerder van die Kaapse Wynland-distriksmunisipaliteit (KWDM), is 71 brande sedert Donderdag 1 Augustus tot nou aangemeld, wat “bos, gras en rommel” insluit. “ ’n Paar voorvalle het die potensiaal gehad om bergbrande te word, maar alles is danksy vinnige ontplooiing teen die hange ingekam,” sê Roodt.
Die begroting wat die KWDM vir brandbestryding vir die 2024-’25-boekjaar opsy gesit het, beloop net meer as R72 miljoen, teenoor die vorige jaar se R74 miljoen. Die KWDM-boekjaar strek van Julie 2024 tot Junie 2025.
Veldbrande ontstaan weens verskeie redes, wat insluit mensgemaakte of natuurlike brande, lui ’n persverklaring van CapeNature.
Nietemin sluit een oorsaak waaroor Eikestadnuus se susterskoerant, Paarl Post, berig het, dié van godsdienstige praktyke in, wat in bergagtige gebiede in en om Paarl beoefen word. Volgens die artikel wat in Desember 2023 aanlyn verskyn het, sluit die praktyke in om kerse of ander voorwerpe op sekere plekke, wat veld- of bergbrande kan aanhits, aan die brand gesteek.
Dit is onduidelik hoeveel van vanjaar se brande deur dié soort godsdienstige praktyke veroorsaak is.
“Ons kon nie presies bepaal hoeveel van die brande weens godsdienstige groepe plaasgevind het nie,” sê Roodt. “Ons versoek dat mense net vure maak waar braaigeriewe beskikbaar is en altyd seker maak dat die vuur heeltemal geblus is voordat hulle aanbeweeg. Ons moedig ook mense aan om nie op baie warm dae te braai nie.”
CapeNature sê hy het van April 2023 tot Maart vanjaar op 89 veldbrande oor ’n gebied van ongeveer 73 671 hektaar gereageer.
“Altesaam 55% van hierdie brande is deur mense gestig, hetsy deur nalatigheid of opsetlik (braai- en brande vir hitte, vuurwerke en nalatige of opsetlike brandstigting), 12% is deur meganiese middele gestig (masjinerie, swaarvoertuie, motors, treine, sweiswerk, wapens, borselsnyers, kraglyne) en 10% deur brandoptredes soos blokbrande, stapelbrande en brandstroke.
“Natuurlike brande het 14% tot die syfer bygedra, met 9% onbekend of vermoedelik bestaande brande wat in bedwang was, maar opgevlam het,” sê CapeNature.
- Kontak KWDM by 021 887 6664 om brande aan te meld.