Inskrywings vir die 30ste uitgawe van die jaarlikse Kampioenboerewors-kompetisie het vandeesweek geopen en sluit Vrydag 17 Junie.
Die kompetisie, wat in 1992 van stapel gestuur is, gaan vanjaar voort om Suid-Afrika se beste boereworsresepte op te spoor.
Shoprite en Checkers het aspirant-sjefs en bekwame huiskokke oor die afgelope 30 jaar met die gesogte eerbewys as kampioenboerewors-maker vir die jaar bekroon.
Die Drakenstein het die afgelope paar jaar twee plaaslike kampioene opgelewer. Yvonne Jasper van Wellington was 2018 se boereworskampioen en in 2019 was sy die naaswenner. Haar seun Jasper was in 2021 die boerewors-troonopvolger.
Volgens Janine van Aswegen, adjunkhoof van bemarking by Shoprite en Checkers, is die geleentheid ’n jaarlikse hoogtepunt op dié kleinhandelaar se kalender.
“Toe ons die kompetisie 30 jaar gelede van stapel gestuur het, het ons geen idee gehad hoe gewild dit sou word en hoe indrukwekkend en innoverend die verskillende resepte sou wees nie,” het Van Aswegen gesê.
“Drie dekades later – en ná ’n rekordgetal inskrywings verlede jaar – is ons opgewonde om te sien wat die 2022-weergawe van die kampioenboerewors-kompetisie bring.”
Duisende mense skryf elke jaar vir die kompetisie in met die hoop om die titel as SA se beste boereworsmaker te verwerf en hul produkte op supermarkrakke die land heen te sien.
Ter viering van die kompetisie se 30ste bestaansjaar sal die wenner en naaswenners van die vanjaar se kompetisie die eerste keer geldpryse ontvang. Die eerste prys is ’n splinternuwe Toyota Fortuner en R50 000, die tweede prys is R30 000 en die derde prys is R20 000.
Alle boereworsresepte moet voldoen aan streng riglyne vir die maak van tradisionele boerewors en word deur ’n paneel kundiges van die Suid-Afrikaanse Sjefvereniging beoordeel.
Sodra die beoordelaars die resepte bekragtig het, sal hulle dit tot die top-10 beperk. Shoprite en Checkers nooi dan die 10 finaliste na ’n spesiale geleentheid waar hulle hul boerewors vir die beoordelaarspaneel sal voorberei en gaarmaak.
Die beoordelaars sal dan die finale wenner kies, wat met die pryse en die titel as kampioenskap-boereworsmaker vir 2022 sal wegstap.. Vir nog inligting of om in te skryf, besoek gerus www.championshipboerewors .co.za


