Ná jare van gemeenskaps- en vrywilligheidswerk is “coach” Juanita Jacobs deur die nasionale platform G-Sport genomineer as vrywilliger van die jaar.

Jacobs, van Idasvallei, het oor die jare sportontwikkelingswerk van Kylemore tot die Stellebosch-middedorp gedoen. Sy erken haar nominasie vir die G-Sport-toekenning voel soos ‘n klop op die skouer vir haar jare se werk. “Natuurlik help ’n mens nie jou gemeenskap vir erkenning nie, maar dit is harde werk wat baie keer ongesiens verby gaan,” vertel sy.

Coach Juanita, soos sy bekend is, is ‘n opgeleide rugby-, sokker- en futsal-afrigter en ’n gekwalifiseerde netbalskiedsregter. “My passie is veral om die jeug en vroue deur sportontwikkeling te bemagtig. My groot droom is om eendag ’n rugby-akademie deur my nie-regeringsorganisasie, Impact Throught Sport, te stig. Hier sal meisies die geleentheid kry om hul vaardighede op en af van die veld op te skerp om uiteindelik vir professionele spanne te speel en werk.”

Intussen hou coach Juanita haar besig as afrigter van die Kylemore Junior-rugbyklub se o.18-span. By die Kylemore-rugbyklub (seniors) is sy ook die spanbestuurder van die o.20-span. Benewens haar werk agter die skerms was Juanita in haar jonger dae self op die veld en het onder meer Boland-kleure in netball verwerf en SA-kleure vir rugby ontvang as deel van die Goue Leeus, Blou Bulle en die Valke gespeel.

Deesdae is haar fokus, en die rol waarvoor sy genomineer is, om meer kinders, veral meisies, by sport betrokke te kry met die hoop dit hulle meer geleenthede gee en ook lewensvaardighede leer.

Om vir Juanita as nasionale vrywilliger van die jaar te stem, registreer by https://gsport.co.za/register-2/ en stem hier: https://gsport.co.za/voting

Die stemproses sluit Sondag 10 Augustus.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article